Kleuter (4) in Kraaifontein doodgesteek

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie ondersoek ‘n voorval waarin ‘n 5-jarige seun na bewering sy 4-jarige maatjie, wat langs hom bly, op ‘n onbekende manier doodgesteek het terwyl hulle saam met maats in ‘n sirkel in Simangastraat, Bloekombos, Kraaifontein, in die Wes-Kaap gespeel het.

Volgens beriggewing van Solly Lottering-Daily Voice het die 4-jarige oorledene se 48-jarige ouma, Ntomboxola Maya, die volgende gesê: “Die 5-jarige het die 4-jarige gejaag. Ons kon die kind buite hoor huil. Toe ons buite kom, het ons gesien dat hy in sy nek gesteek was. ‘n Taverne-eienaar het inderhaas hulp aangebied en met die 4-jarige na die Kraaifontein-daghospitaal gejaag, maar hy is dood voordat ons die hospitaal kon bereik.”

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, is ‘n moorddossier geopen en word die omstandighede rondom die insident tans ondersoek.

Terwyl die omstandighede van die dood ondersoek word, met die 5-jarige kind wat geïmpliseer word, is twee families en die gemeenskap in rou gedompel. Die seun word oorleef deur sy 23-jarige ma, Nomahlubi Yengwana, broer en ouma.

Die naam van die 4-jarige is aan FiND-iT Nuus bekend, maar beide die minderjarige kinders se identiteit word deur wetgewing beskerm.