Volgens Kasselman Sekuriteitsdienste is vyf verdagtes van ‘n sindikaat 3 Augustus op die pad tussen Standerton en Villiers gearresteer.
Die verdagtes het na bewering 70 000 liter diesel uit die Transnet-pyplyn wat van Johannesburg na Durban, oor plase in die gebied loop, gesteel.
Op die plek waar die diesel uit die pyplyn in die tenkwaens ingepomp is, het die een vragmotor-voorhaker en twee tenkwaens in die grond vasgeval, en kon nie verder ry nie.
Die verdagtes het met die ander voorhaker en hul swart Ford Ranger gevlug en is ongeveer 15 kilometer voor Standerton ingehaal, waar ‘n reaksievoertuig van Kasselman Sekuriteitsdienste hulle van voor ingewag het om hul tot stilstand te probeer dwing. Nog ‘n voertuig van die maatskappy het gehelp om die verdagte voorhaker te blokkeer. Die verdagte wat die voorhaker bestuur het, het uitgespring en op die swart Ford Ranger gespring, waarna hulle omgedraai en teruggejaag het in die rigting van die Vrystaat.
Kasselman Sekuriteitsdienste is agterna en kon daarin slaag om die verdagtes met hul voertuig voor te keer en die nodige arrestasies is uitgevoer.
Jannie Kasselman het sy dank uitgespreek teenoor sy span, boere van die omgewing, SAPD, Bidvest, asook APM en Snipr-sekuriteit vir hul hulp ten tyde van die insident.
Twee vragmotor-voorhakers, twee tenkwaens met 70 000 liter diesel asook ‘n swart Ford Ranger-bakkie is deur die polisie van Standerton gekonfiskeer.



