Die DA in Kimberley lei môreoggend, op Vrouedag, ‘n optog na die polisiekantore in Phakamile Mabijastraat om ‘n memorandum aan die polisie te oorhandig. ‘n Memorandum wat eis dat DNA-toetse geprioritiseer moet word in die geveg teen geslagsgeweld.
“Elke dag hoor ons van slagoffers van verkragting, vrouemoorde, en interpersoonlike geweld,” lui ‘n verklaring van die DA. “Die Krugersdorp-verkragtings het ons diep geraak. Hoe kan regverdigheid geskied as die DNA-agterstand nie hanteer word nie?”
‘n Gemiddeld van 153 mense word elke dag in Suid-Afrika verkrag. DNA is die belangrikste bewysstuk in verkragtingsake om seker te maak slagoffers kry regverdigheid en dat die skuldiges vasgetrek word.
Die DA sê hy verwag ongeveer 300 mense wat aan die optog gaan deelneem. Mense soos die minister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, die adjunk-minister Luyolo Mpithi, Nazley Sharif, DAWN Federal-lede Annerie Weber en Sally Nene en Noord-Kaapse provinsiale leier Harold McGluwa sal die optog bywoon.
Die optog sal om 08:45 buite die stadsaal in Kimberley begin en lede van die publiek word uitgenooi om deel te raak van die optog.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



