Izak du Plessis en Mike Bolhuis in interdik-sage gewikkel

Deel hierdie storie / Share this story


Izak du Plessis, eienaar van die onafhanklike aanlynkanaal vir nuus en aktualiteit, Nuuspod, moet Woensdag in die hof verskyn op aanklag van die oortreding van ’n hofbevel.
 
Die hofbevel spruit uit ’n interdik wat deur Mike Bolhuis, die privaat-ondersoeker van Specialised Security Services, teen du Plessis verkry het nadat du Plessis video’s geplaas het oor beweringe van ongeruimdhede van Bolhuis en sy onderneming.

Du Plessis moes luidens dié interdik twee video’s oor Bolhuis van sy sosiale media platforms verwyder.
 
Du Plessis vertel in ’n You Tube-uitsending, “My nag in die tronk”, van sy ervaring nadat hy in hegtenis geneem is.
 
Hy is in die Crossings-winkelsentrum in Nelspruit in Sportsman’s Warehouse op 4 Augustus in hegtenis geneem.
 
“Aanvanklik, moet ek vir jou sê, was dit vir my snaaks,” vertel du Plessis. Hy sê hy het later agtergekom dit is baie ernstiger as wat hy dit graag sou wou hê.
 
Sy skoenveters is uitgehaal, sy selfoon is afgeneem, sy belt is afgehaal. “Daar sit ek met ’n broek wat wil afval en skoene wat wil uitval, met ’n klomp mense wat my wil help om te sorg dat ek nie die nag in die tronk slaap nie.”
 
Du Plessis raak emosioneel in die video wanneer hy vertel hoe vriende van oraloor gekom het om hom te ondersteun.
 
Hy vertel daar was net “dun, dun gimnastiek-matrassies” met “vlooi-vuil kombersies” waarop jy jou moet tuismaak.
 
“Jy het nie kontak met iemand nie, jy het nie ’n foon nie, jy het niks nie.” Hy sê hy is nie ’n pieperige ou wat gou skrik en bang word nie, maar hy sê hy was “sk*tbang”.
 
“Dit het naderhand vir my gevoel ek kry ’n hartaanval, soos die vrees hier in jou hart kom sit nie. Dit maak nie saak hoe slim jy dink jy is nie, hoe intelligent jy dink jy is nie. Dis ’n vrees wat opbou. Jy moet ’n spesiale soort van recce of wat ookal wees om deur dit te gaan en nie emosioneel daaroor te wees nie.”
Du Plessis vertel verder van sy twee “sel-makkers” wat vir diefstal in hegtenis geneem is en die “oranje kokkerot” wat mik-mik vir ’n ou bord wat moontlik sousboontjies en brood bevat het. Self het hy die nag sonder kos uitgestaan.
 
Mike Bolhuis sê dit was nooit die intensie om du Plessis in hegtenis te neem nie. “Ons het hom mooi gevra om die goed te verwyder.” Bolhuis het gesê du Plessis sal weer op 23 Augustus in die hof moet verskyn om te verduidelik waarom ’n permanente bevel nie teen hom toegestaan moet word oor die video’s wat hy geplaas het nie. Du Plessis sê in sy uitsending hy het wel intussen die video’s verwyder. Nie Bolhuis of du Plessis kan kommentaar lewer oor die inhoud van die video’s nie, aangesien bewyse nou aan die hof blootgelê moet word.
 
Chenique Opperman, van Opperman Attorneys, sê die interdik is via WhatsApp en e-pos aan du Plessis beteken. Dit was ’n spesiale voorwaarde. Du Plessis ontken dat dit ooit op hom beteken is.
 
Opperman sê sy sien in haar beroep baie keer mense wat in die publieke oog is wat deurloop as daar goed op sosiale media geplaas word. “Ons het die howe en regsforums waarheen jy kan gaan om ’n kriminele klag te lê, maar dis makliker om mense te ‘trial by media’ op sosiale media.” Opperman het bygevoeg, sover haar kennis strek, het du Plessis slegs die video’s privaat gestel en nie heeltemal verwyder nie.
 
Opperman sê die publiek moet verstaan jy kan nie meer net enigiets op sosiale media kwytraak nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel