VSA waarsku teen moontlike vergelding oor hommeltuig-aanval op Ayman al-Zawahiri

Die 71-jarige Egiptiese chirurg het leierskap van Al-Kaïda oorgeneem ná die dood van Osama Bin Laden in 2011.

VSA waarsku teen moontlike vergelding oor hommeltuig-aanval op Ayman al-Zawahiri

VSA waarsku teen moontlike vergelding oor hommeltuig-aanval op Ayman al-Zawahiri foto: BBC

Die VSA het sy burgers aangemoedig om waaksaam te wees teen moontlike anti-Amerikaanse geweld in die buiteland ná die moord op Al-Kaïda-leier Ayman al-Zawahiri.

Sy dood kan Al-Kaïda-ondersteuners of ander verwante terreurgroepe aanspoor om Amerikaanse fasiliteite en personeel te teiken, het die staatsdepartement gesê.

Zawahiri is Sondag in die Afghaanse hoofstad, Kaboel, deur ‘n Amerikaanse hommeltuig gedood.

Hy was glo een van die meesterbreine agter die 9/11-aanvalle op die VSA waarin byna 3 000 mense hul lewens verloor het.

Die 71-jarige Egiptiese chirurg het die leierskap van Al-Kaïda oorgeneem ná die dood van Osama Bin Laden in 2011.

Sy dood is Maandag bevestig deur die Amerikaanse president, Joe Biden, wat gesê het Zawahiri het “‘n spoor van moord en geweld” teen Amerikaanse burgers gelaat.

Biden het gesê Zawahiri se dood sal afsluiting bring vir families van die slagoffers van die 2001-aanvalle, waarin kapers passasiersvliegtuie in landmerkgeboue in New York en Washington, asook twee wolkekrabbers in Manhattan, laat vasvlieg het.

Hy het bygevoeg dat Zawahiri ook van aandadigheid aan ander terreurdade verdink is, insluitend die selfmoordbomaanval op die USS Cole in Aden in Oktober 2000, wat 17 Amerikaanse matrose gedood het, en die 1998-aanvalle op die Amerikaanse ambassades in Kenia en Tanzanië, waarin 223 mense gesterf het.

“Die departement van buitelandse sake glo daar is ‘n groter potensiaal vir anti-Amerikaanse geweld gegewe die dood van Ayman al-Zawahiri op 31 Julie 2022,” het die departement in ‘n wêreldwye waarskuwing gesê.

“Huidige inligting dui daarop dat terreurorganisasies voortgaan om terreuraanvalle teen Amerikaanse belange in verskeie streke regoor die wêreld te beplan,” is bygevoeg.

“Hierdie aanvalle kan ‘n wye verskeidenheid taktieke gebruik, insluitend selfmoordoperasies, sluipmoorde, ontvoerings, kapings en bomaanvalle.”

Amerikaanse burgers word sterk aangemoedig om ‘n “hoë vlak van waaksaamheid te handhaaf en deeglik van situasies bewus te wees” wanneer hulle in die buiteland reis, het die waarskuwing bygevoeg.

Bronne: BBC, Business Standard, The Star

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Al-Kaïda-leier, Ayman al-Zawahiri, dood deur Amerikaanse hommeltuigaanval in Afghanistan

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.