Twee matriekmeisies met byl doodgekap

Deel hierdie storie / Share this story

Twee matriekmeisies van KwaZulu-Natal is verlede week tydens ‘n gru-aanval met ‘n byl doodgekap.

Nonhlanhla Khoza, LUR van die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling, het Dinsdag gesê ‘n jong man in sy 20’s het verlede week toegang gekry tot die twee meisies se huis in wyk 8 van die Ngwangwane- informele nedersetting.

Hulle is met ‘n byl aangeval en hulle ledemate afgekap.

Een van die meisies se liggame is in die huis gelos en die ander een se liggaam is vyf kilometer van die toneel af gevind.

“Ons is in pyn oor die twee jong vroue op dié manier moes sterf. Die aanval op weerlose leerlinge is totaal afskuwelik en ‘n weerspieëling van die ergste vorm van misdadigheid en die agteruitgang van morele waardes.”

‘n Jong man is die naweek met hulp van sy pa deur die polisie in hegtenis geneem. Hy is Maandag na die toneel geneem waar die een meisie se liggaam gestort is.

Daar het hy in die rivier gespring en na die oorkant geswem in ‘n poging om van die polisie te vlug. Hy is egter weer aangekeer.

“Ons het nog nooit so ‘n aaklige voorval beleef nie,” het Khoza gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel