Tradisionele geneser was glo moontlike teiken van nóg skietery

Deel hierdie storie / Share this story

Polisie in KwaZulu-Natal op soek na verdagtes van twee afsonderlike skietvoorvalle in Mariannhill suid van Durban.

Volgens brigadier Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, is sewe mense Saterdag in ‘n spazawinkel en vyf ander in ‘n huis, wat as twee afsonderlike voorvalle bestempel word, doodgeskiet. 

In die eerste voorval by Sqhopholozi-spazawinkel, wat ook as ‘n taverne dien en geleë is op die hoek van Mpanza- en Nxelestraat in Savannah Park, is die eienaar Dancan Mzobe (65), en sy nefies, Sanele en Sibusiso Mzobe, doodgeskiet toe drie mans doodluiters by die spazawinkel ingestap en op hul losgebrand het.

Volgens Naicker was een van die oorledenes, wat by die snoepie gewag het om ‘n tradisionele geneser te sien, moontlik die werklike teiken van die skietery.

Die ander oorledenes is geïdentifiseer as Phumlani Alfred Mphithiphithi (62), Siyadumisani Mtshengu (38), ook bekend as Rasta; Sphamandla Shezi; en Siya Khinisa, wat in die hospitaal gesterf het. 

Sibusiso Mzobe, wat die voorval oorleef het, het aan IOL vertel hy was by die ingang toe hy die onbekende verdagtes met hoede op die perseel sien nader.  Toe hy skote hoor klap het hy op die grond neergeval, gekruip en weggehardloop.

In Dassenhoek, wat in dieselfde polisiërings area is, het ‘n man by ‘n huis ingestap met die doel om inwoners van selfone en kontant te beroof, waarna hy  ontwapen, aangerand en laat gaan is. 

Hy het na bewering later met twee makkers teruggekeer, en die oorledenes tussen die ouderdomme  van 26 en 47-jaar is binne die huis doodgeskiet.  Hulle het van die toneel gevlug met selfone, kontant en ‘n televisiestel. 

Volgens Naicker het die polisie belowende inligting wat hulle tans opvolg.

’n Dame wat in die skouer geskiet is sterk tans in die hospitaal aan.

Die verhuurder van die woning, Siyabonga Shezi, wat in sy kamer was het gehoor hoe iemand probeer om met geweld by die deur in te kom.

“Ek is nie seker hoeveel skieters daar was nie. Die deur is oopgeskop, en hulle het  geskiet.”

Peggy Nkonyeni, LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling in KwaZulu-Natal, versoek die gemeenskap om saam met die polisie te werk om om misdaad te bekamp en misdadigers aan die kaak te stel. 

Lt. genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, het alle beskikbare polisiehulpbronne gemobiliseer om die aanvallers op te spoor.