Polisie in Gqeberha jag verdagtes na ’n skietvoorval in Walmer

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens kolonel Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, is ‘n 72-uur aktiveringsplan inderhaas geloods nadat drie mans vermoor en twee ander beseer agtergelaat is in nog ‘n skietvoorval wat die land naweek na naweek teister.  

Gedurende die oggendure van Sondag 31 Julie 2022 het polisie reageer op ‘n klagte van ‘n skietery wat in Sigcawustraat  in Walmer plaasgevind het. 

Met die polisie se aankoms op die toneel is drie manlike oorledenes met veelvuldige skietwonde gevind waar hulle in die straat gelê het.  

Volgens ‘n gewonde 35-jarige man wat in sy hut geslaap het, het hy van skote wakker geword en met dié dat hy opgestaan het is hy in die linkerbeen geskiet.    

‘n Beseerde 18-jarige met skietwonde in sy linkerbeen en skouer is ook in die pad gevind.  

Na bewering het die oorledenes en die 18-jarige buite ‘n hek in die straat gestaan toe ‘n wit Quantum minibus hulle genader het en daar lukraak vanuit die voertuig op hulle geskiet is. 

Een van die oorledenes is geïdentifiseer as die 29-jarige Lonwabo Makeleni. Die ander twee oorledenes, vermoedelik 18 of 19 jaar oud is nog nie geïdentifiseer nie. 

Die motief vir die aanval is onbekend en die polisie se ondersoek duur voort.  

Inwoners van Walmer wat inligting aangaande die skietvoorval het is versoek om na vore te kom.  Hulle is ook gevra om te help om die onbekende slagoffers te identifiseer. Alle informasie sal as vertroulik hanteer word.

Speurder sersant Lindile Mlaza kan gekontak word by 082 075 7186, of die Stop Misdaad nommer 08600 1011.