Meer as 1 655 persone die naweek in Gauteng gearresteer

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Gauteng het die naweek meer as 1 655 persone in die provinsie in hegtenis geneem vir vermeende misdade soos moord, poging tot moord, dwelmhandel, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en bedrog.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê onder die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is ‘n lid van die Boko Haram-bende wat vir ‘n geruime tyd op die Gauteng-polisie se “mees gesoekte” lys was.

Volgens lt.kol. Masondo was die bendelid vir lank vry terwyl sy trawante reeds in hegtenis geneem is.

“Die verdagte het die gemeenskap van Mamelodi die afgelope paar jaar geterroriseer. Hy is op aanklagte van uitbuiting en rooftogte in hegtenis geneem.”

Die verdagte sal vandag in die hof verskyn.

Lt.kol. Masondo sê verder die polisie het die naweek hard gewerk om die 1 655 verdagtes in hegtenis te neem.

Altesaam 486 verdagtes is in die Ekurhuleni-distrik aangekeer, 380 in Tshwane, 174 in die Wesrand-distrik, meer as 495 in Eldorado Park en Diepkloof, en meer as 120 verdagtes is in die Sedibeng-distrik vasgetrek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel