Besonderhede van moord op geliefde veldwagter Anton Mzimba

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na drie verdagtes wat na bewering die bekende veldwagter, Anton Mzimba, doodgeskiet en sy vrou kritiek gewond het by hul huis in Edinburgh Trust naby Bosbokrand in Mpumalanga.

Die gru-voorval het Dinsdagaand 26 Julie 2022 gebeur. Mzimba se vrou is kort ná die skietvoorval in die hospitaal opgeneem.

Volgens die polisie het drie gewapende mans Dinsdag omstreeks 19:00 die egpaar se huis binnegegaan waar hulle voorgegee het dat hulle water vir hul voertuig wat ‘n probleem gehad het, wou hê.

Terwyl die kind besig was om aan hulle versoek te voldoen, het die mans Anton Mzimba (wat in sy motor besig was) skielik genader en hom na bewering verskeie kere geskiet.

Daar word verder beweer dat sy vrou geskree het nadat sy gesien het wat pas met haar man gebeur het. Sy is ook toe deur die verdagtes in die maag geskiet.

Die drie verdagtes het glo daarna in ‘n wit VW Polo van die toneel gevlug sonder om iets in die huis te neem.

Mpumalanga-polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het gesê die twee slagoffers is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar Mzimba met hul aankoms ongelukkig aan sy beserings beswyk het. Sy vrou is opgeneem en ontvang mediese aandag.

Mohlala het gesê die saak is by die polisie op Mhala aangemeld waar ‘n moorddossier geopen is met ‘n bykomende klag van poging tot moord.

“Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend en dit sal deel vorm van die ondersoek deur die span wat saamgestel is om die voorval te ondersoek,” het Mohlala bygevoeg.

Bronne: MSN, The South African, The Citizen

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Timbavati-wildbewaarder Anton Mzimba doodgeskiet