Theané Willems (16) is Sondagaand 13 Maart gekroon as Miss Teen Universe SA. Dié talentvolle skoonheid gaan haar land verteenwoordig in die finale kompetisie wat November in Florida, Amerika gehou gaan word.
Die kompetisie het gestrek oor twee dae, Saterdag en Sondag (12 & 13 Maart), met die kroning wat die Sondagaand was. Sy sê dit was ‘n oomblik wat sy nooit sal vergeet nie. “Ek het dit glad nie verwag nie, want al die meisies was so mooi en het so baie potensiaal gehad, maar ek was so dankbaar dat my harde werk die moeite werd was.”
Theané moes baie voorbereiding doen en sy sê dit was ‘n proses om tot daar te kom. Daar was eers oudisies en sy was toe gekies as een van die 120 semi-finaliste. “Daarna het ek begin en geld ingesamel saam met my modelskool vir mense met outistisme. Ek het ook ‘n ‘fashion show’ gehou en die geld wat ingesamel is, geskenk aan mense met outisme.”
Elke semi-finalis moes ook ‘n video maak, waarin elkeen moes sê hoekom sy graag wil wen. Theané is toe gekies as een van 67 finaliste. Nadat sy as ‘n finalis gekies is, het sy met baie liefdadigheidswerk begin. “Ek het vir die kinderhuis goedjies gevat. Ek is mal oor diere, so ek het ook besluit ek wil graag die stem wees vir diere omdat hulle nie kan praat nie, en ek wil hulle versorg.”
Daarna was dit uiteindelik die groot kompetisie. Saterdag het die beoordelaars onderhoude gevoer met die finaliste en Sondag het hulle eers in swemklere en daarna in aandrokke voor die gehoor en beoordelaars geloop. Die finaliste is van die begin af beoordeel. Hulle sosialemedia-teenwoordigheid is dopgehou, dus moes hulle heeltyd aktief wees.
“Dit was ‘n lang proses, maar ek het dit so baie geniet. Ek is so bly ek het dit gedoen en toe die vrugte daarvan gepluk.”
Theané is al vir vier jaar deel van Vogue Models Kimberley en haar afrigter is Jean-Marie.
Sy is beslis ‘n rolmodel vir jonger en ouer meisies. “Ek voel noudat ek hierdie groot titel het, is daar baie meisies wat opkyk na my, so dis vir my baie belangrik om altyd positiewe en motiverende goedjies op sosiale media te plaas.
My droom is om ‘n model- en skoonheidskool oop te maak waar ek ander kinders wie se droom dit is om ‘n suksesvolle model te wees, kan help en om vir hulle selfvertroue te gee.”
“My grootste ondersteuning was vir seker my ouers! Hulle het alles in hul vermoë gedoen om my te help met hierdie groot kompetisie en ek sal vir altyd dankbaar wees teenoor hulle. En dan my boetie en sy meisie wat my ook so baie ondersteun het by die kompetisie.”
Haar raad aan jong, opkomende modelle is om jou drome na te jaag. “Volg altyd jou drome, want geen droom is ooit te groot nie. Moet nooit jouself vergelyk met ander nie, want jy is uniek op jou eie manier!”
Die een bekende model na wie sy opkyk en admireer, is Rolene Strauss. “Nie net omdat sy Miss World 2014 was nie, maar omdat sy nooit opgegee het toe sy in 2011 nie gewen het nie. Sy het harder gewerk aan haar swakpunte en sy het weer probeer.”
In haar vrye tyd geniet Theané dit om te gym en te dans. “Ek is ook mal daaroor om ander meisies af te rig met model- en dansklasse. Ek gee ook fiksheidsklasse vir meisies. Laastens is dit vir my die hoogtepunt van elke week om met sakke vol goedjies na Destiny House, ‘n kinderhuis in Kimberley, toe te gaan en om die glimlaggies op die kinders se gesiggies te sien!”



