Daar is berig dat ‘n tiener tydens ‘n Umgidi-ritueel in Oos-Londen aan ‘n verskriklike beproewing onderwerp is. Na bewering is die gr. 10-leerling by ‘n inisiasieskool deur verskeie volwassenes verkrag.
Die polisie het Woensdag bevestig ’n saak is nou geopen. Die slagoffer beweer dat ses mans agter die ontstellende aanval gesit het. Twee name is aan wetstoepassers verskaf.
Intussen volg die kinderregte-aktivis Petros Majola die saak noukeurig. Volgens hom het dit aan die lig gekom dat een van die beskuldigdes ‘n familielid van die leerling is.
Die voorval het na bewering meer as ‘n maand gelede, middel Junie, plaasgevind. Die tiener is in so ‘n slegte toestand agtergelaat dat hy hospitaalbehandeling vir sy beserings moes kry.
“Ek is geskok om te hoor hy het in ‘n hospitaalbed beland as gevolg van bendeverkragting. Hy het baie ernstige beserings opgedoen. Daar is twee mense wat hy reeds genoem het. Die pynlike deel is dat een skuldige sy familielid is. Ek wil ’n beroep doen op alle mans in die provinsie. Neem asseblief ‘n oomblik en dink diep wanneer dit by hierdie misdade kom,” het Petros Majola gesê.
‘n Verslag deur die Daily Dispatch voer aan dat ‘n doodsdreigement teen die slagoffer gemaak is, sou hy enigiemand van die voorval vertel.
Nadat sy familie met sy terugkeer van die inisiasieskool vreemde gedrag by hom opgemerk het, het hy die grusame besonderhede van sy lyding bekendgemaak.
Die leerling ontvang steeds beide mediese en sielkundige behandeling, aangesien hy erg getraumatiseer is.
Bronne: MSN, The South African, News24
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Afgedank oor paniekaanval, wen R7 miljoen regsgeding teen baas



