Zelenski en sy vrou gekritiseer oor Vogue-fotosessie

Deel hierdie storie / Share this story

Wolodimir Zelenski, president van Oekraïne, en sy vrou Olena Zelenska se Vogue-fotosessie het baie negatiewe terugvoer op sosiale media ontvang.

Die egpaar, wie se land steeds in oorlog met Rusland is, het Dinsdag 26 Julie op die digitale uitgawe van die tydskrif gepryk. Die fokus was op Zelenska en haar rol in die konflik met Wladimir Poetin se Rusland.

Die Amerikaanse publikasie beskryf Oekraïne se presidentsvrou as ‘n “portret van dapperheid”. In die fotosessie word Zelenski en sy vrou saam in hul tuiste in die Mariinsky-paleis aan die buitewyke van Kiev gewys.

Nog ‘n foto wys Zelenska langs die neergestorte oorblyfsels en puin van die wêreld se grootste vragvliegtuig, die Antonov AN-225 wat in die Slag van Antono-lughawe vernietig is.

“Dit was die aakligste maande van my lewe, en die lewens van elke Oekraïner. “Eerlik gesê, ek dink nie iemand is bewus van hoe ons dit emosioneel reggekry het nie. Ons sien uit na die oorwinning. Ons twyfel nie dat ons sal oorwin nie. En dit is wat ons aan die gang hou,” het Zelenska, presidentsvrou van Oekraïne, gesê.

In die onderhoud het Zelenski en Zelenska ook hul huwelik van amper 20 jaar bespreek.

Hulle het die geskiedenis en die pyn van tyd deur te bring sonder hul kinders van wie hulle geskei moes word weens Rusland se voortslepende inval in die land, gedeel.

Met die oorlog wat steeds voortduur in Oekraïne en duisende lewens wat verloor word en vele meer wat landuit gevlug het, was netgebruikers egter nie gelukkig oor die fotosessie nie.

“Gewone Oekraïners sterf elke dag in ‘n oorlog wat hulle nie kan wen nie terwyl Zelenski besig is om fotosessies vir Vogue te doen, sy top-regeringsamptenare van hoogverraad te beskuldig en op sy berg kontant van die Amerikaanse regering te sit,” het ‘n netgebruiker geskryf.

“Zelenski en sy vrou is besig met’n magazine-fotosessie terwyl sy land te midde van ‘n rampspoedige oorlog is. Dit gebeur wanneer jy jou land aan ’n komediant oorgee,” het een gebruiker gesê.

“Wattttt?? Waar het hy die tyd gekry om vir foto’s te poseer tydens ’n oorlog?” het ‘n ander gebruiker gevra.

Bronne: MSN, The South African, Daily Mail

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Lindiwe Sisulu wil hê skole moet ‘50% swart, 50% wit’ wees