Soms word werkers gedwing om deel te neem aan kantooraktiwiteite of geleenthede wat hulle dalk nie noodwendig geniet nie. In Kevin Berling se geval het sy bestuurders dinge dalk ‘n bietjie te ver gevoer.
Berling, wat beweer het sy vorige werkgewer het hom afgedank omdat hy “kwaad” was omdat sy kantoor vir hom ‘n verrassingsverjaardagpartytjie teen sy wense gehou het, het $450 000 (R7 549 239) in die hof gewen.
In gesprek met WKRC-TV het Tony Bucher, Berling se prokureur gesê: “Hulle het hom redelik moeilikheid begin gee vir sy reaksie op die verjaardagviering en hom eintlik daarvan beskuldig dat hy sy medewerkers se vreugde gesteel het.”
Volgens Insider-berigte ly Berling aan paniekaanvalle weens ’n angstoestand.
Uit hofrekords wat WKRC-TV bekom het, het hy sy bestuurders by Gravity Diagnostics in Covington, Kentucky, Amerika, ingelig dat hy nie sy verjaardag in Augustus 2019 wil vier nie.
Volgens die regsgeding het hulle hom egter steeds met ’n partytjie verras.
Na die viering het sy base hom volgens berigte ondervra en verneder oor sy reaksie, wat daartoe gelei het dat Berling nog ‘n paniekaanval gekry het.
Na hierdie tweede voorval het Berling glo die res van die week van die huis af gewerk.
In hofstukke het Berling beweer dat hy “gely het en steeds ly aan ‘n verlies aan inkomste en voordele, sowel as emosionele swaarkry en geestelike angs” voordat hy Gravity Diagnostics gedagvaar het vir gestremdheidsdiskriminasie en vergelding.
Al is skadevergoeding van $450 000 aan Berling toegeken, het die onderneming die opsie om die regter se beslissing te betwis.
Berling ontvang terapie, en volgens Bucher was hy ‘n fantastiese werker vir Gravity Diagnostics.
Bronne: MSN, Business Report, Soeknet
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Absa-OTM laat geld uitvlieg



