‘n OTM van Absa wat oënskynlik gewanfunksioneer het deur note van R10 000 uit te spoeg, was ‘n toets vir die omstanders se eerlikheid.
‘n Broer en suster wat dit eerste ontdek het, het dit by die polisie aangemeld, terwyl van die omstanders van mening was dis manna uit die hemel wat hulle toekom.
Die duo, Alysia (32) en Shane Mowers (28), was buitengewoon geskok toe hulle die vloer besaai sien met R50-, R100- en R200-note toe hulle die Absa-OTM op Oudtshoorn op 19 Julie besoek het.
Die twee het enige vorm van versoeking weerstaan om die geld in hul sak te steek, maar eerder die plaaslike polisie in kennis gestel.
Volgens News24 het Alysia gesê sy is deur ‘n omstander aangemoedig om die geld te neem. Sy het egter geweier en gesê: “Ek raak nie aan hierdie geld nie.”
Die motief om by haar beginsels te bly, was dat die geld iemand se verbandtransaksie kon wees wat verkeerd geloop het.
News24 het berig Alysia, wat ook ‘n onderwyseres is, het vir haar klas vertel het van wat gebeur het. Dit is vir haar belangrik om as opvoeder die regte waardes by haar leerlinge tuis te bring.
Die voorval is deur ABSA bevestig.
‘n Ondersoek het aan die lig gebring dat die kontant uit die OTM gespuug is weens ‘n onvolledige transaksie.
Alhoewel dit ‘n geïsoleerde voorval was, het Pholushi Malesa van Absa kliënte wat OTM’s gebruik aangeraai om altyd te verseker dat hul transaksie volledig afgehandel is voordat hulle wegstap.
Die bank was met alle partye, insluitend die kliënt wat die saak aangemeld het, in aanraking.
Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het aan News24 gesê geen saak is by die polisie aangemeld nie. Die polisie het ook deur sosiale media van die voorval verneem.
Bronne: MSN, The South African, Affluencer
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Gemeenskap dwing vrou om baba uit vlak graf te grawe



