’n 25-jarige vrou is Dinsdag 26 Julie in Inanda, KwaZulu-Natal weens verberging van geboorte in hegtenis geneem.
Konstabel Thenjiswa Ngcobo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), sê ‘n voorval het omstreeks 14:00 in Amaoti plaasgevind.
Gemeenskapslede het na bewering die vrou aangekeer omdat hulle vermoed het dat sy haar baba doodgemaak het.
“Met aankoms op die toneel het die polisie vasgestel dat die gemeenskap die vrou gedwing het om die vlak graf op te grawe waar die oorblyfsels van haar baba begrawe was,” het Ngcobo gesê.
Die vrou is in hegtenis geneem en van verberging van geboorte by die Inanda-polisiestasie aangekla.
Die pasgebore baba se oorskot is na ‘n plaaslike lykshuis vervoer.
Volgens die polisie word beweer dat die vrou swanger was en toe sy sonder ‘n baba opgemerk is, het die gemeenskap agterdogtig geraak en haar ondervra. Sy het glo aan bure gesê die kind is dood.
Die vrou sal na verwagting Donderdag 28 Julie in die Ntuzuma-landdroshof op bogenoemde aanklag verskyn.
Bronne: MSN, The South African, Tshisa live
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Skietery naby King Shaka-lughawe: 5 dood, motoriste versoek om N2 noord te vermy



