Pastoor Rooies Strauss vertel van die eerste keer in sy lewe wat hy deur ‘n demoon aangeval is toe hy besig was om te bid en hoe sy linkerwang 15 minute ná die aanval steeds verlam was.
Strauss, wat hom nie gewoonlik uitspreek oor demone nie en werklike demoniese aktiwiteite wat hy in sy byna 30 jaar as pastoor ervaar het, op een hand kan tel, sê hy was besig met Bybelstudie.
“Ek was besig met Bybelstudie en om te bid oor verskeie sake, toe ek skielik aan my linkerkant ‘n gedaante gesien het. Ek het eers gedink dit was my vrou, maar toe ek mooi kyk, sien ek dis ‘n gedaante.”
Hy sê hy kan nie presies sê hoe die gedaante se gesig gelyk het nie, maar dat dit ‘n wit gedaante was.
“En op daardie oomblik het my liggaam aan die linkerkant lam geword. Ek het dadelik die bloed van Jesus oor my geroep, en toe gaan dit weg. My linkerwang was vir byna 15 minute na die tyd steeds lam.”
“En ek was reeds besig om te bid en die Here te vra om mense se kettings te breek en hulle te help.”
Hy vertel hy het ná die aanval vir sy vrou gaan vra of alles oukei is.
“Dit was die eerste keer wat so iets met my gebeur het,” vertel hy. “Ek dink die Here wou my net vinnig wys hoe Hy ons beskerm en hoe aanvalle reg rondom ons is.”
“Ek dink Hy wou vir my wys ek moet meer bid, meer ernstig raak met hom, besef hoe die aanvalle om ons is. Mens raak baie keer so gerus en sien dit nie altyd meer raak nie.”
Hy sê ook dis belangrik om te onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte.
“Daar is krag in Sy naam.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



