AfriForum gereed vir regsaksie teen beoogde ramptoestand

Deel hierdie storie / Share this story

Die burgerregteorganisasie AfriForum is gereed om die hof op ’n dringende basis te nader, sou die regering besluit om weer ’n ramptoestand in te stel. Volgens berigte in die media oorweeg president Cyril Ramaphosa glo om ’n ramptoestand aan te kondig, as deel van sy regering se aksieplan om beurtkrag te beëindig.

Volgens AfriForum het die regering in die afgelope paar jaar herhaaldelik bewys dat hy nie vertrou kan word met die uitgebreide magte wat ’n ramptoestand aan hom gee nie en gaan hierdie ramptoestand waarskynlik net soos die Covid-19-ramptoestand misbruik word om politici te verryk, onreëlmatige tenders uit te deel en parlementêre oorsig vry te spring.

“Dit wil voorkom of die rampbestuurswet nou die regering se nuwe gunstelingvoertuig geword het om korrupte aktiwiteite te vergemaklik en mee uit te voer. Die wet word duidelik misbruik en ’n ‘ramp’ wat deur wanbestuur veroorsaak is, val beslis nie binne die bestek van die wet nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum.

“Die feit dat kragonderbrekings Suid-Afrika nou al vir 14 jaar teister weens die ANC se wanadministrasie, rasbeheptheid, korrupsie en vasklou aan Eskom as kragmonopolie, is beslis ’n katastrofe. Juis daarom kan ons nie die regering vertrou met ekstra magte nie, tensy ons ’n tweede ramp wil bylas by die kragkrisis,” sluit Van Zyl af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.