Die lewelose liggaam van die tweejarige Neo Refemetswe Tlhame van Uitbreiding 3, Blydeville buite Lichtenburg, is op Dinsdag 5 Julie 2022 in ‘n vlak graf gevind.
Die tweejarige is laas op 24 Mei 2022 gesien en is ‘n paar dae later as vermis aangemeld. Hy het ‘n blou top met rooi sterre, blou broek en blou skoene aangehad – dieselfde klere wat hy op die foto gedra het wat deur die polisie tydens sy soektog versprei is.
Die polisie is glo deur Neo se ma ontbied nadat hulle ‘n verdagte graf naby die rivier opgemerk het.
Die graf is uitgegrawe en die ontbinde liggaam van jong Neo is geïdentifiseer met die klere wat hy op die dag van sy verdwyning gedra het.
Noordwes-polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda Funani, sê die tweejarige, wat saam met sy grootouers was, het Dinsdag 24 Mei 2022 vermis geraak. Sy verdwyning is deur sy ma vasgestel toe sy hom na werk gaan haal het.
“Na die vrugtelose soektog deur gemeenskapslede en Neo se familie, is ‘n vermiste persoon-saak vir ondersoek geopen. Die polisie het ook by die soektog aangesluit, maar Neo is nooit gevind nie. Die oorsaak van dood is nog onbekend en niemand is in hegtenis geneem nie,” sê lt.kol. Amanda Funani.
Noordwes-polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het die voorval veroordeel en die Lichtenburg-speurders aangemoedig om alles in hul vermoë te doen om die beweerde oortreders van hierdie misdaad in hegtenis te neem.
Bronne: MSN, The South African, EWN
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Tweejarige seuntjie van Lichtenburg Dinsdag laas gesien



