‘Ek wil net my dogter help,’ smeek ma ná dogter se diagnose

Deel hierdie storie / Share this story

“My dogter is nou heeltemal aan ‘n rolstoel verbind. Sy het haar werk verloor as gevolg hiervan en ek het ook my werk gelos om na haar om te sien. Ek wil net my dogter help, maar ek weet nie hoe nie.”

Só sê Belinda Graaff van Krugersdorp oor haar 27-jarige dogter wat op 20 die eerste keer ontdek het dat sy nierstene het en al 18 operasies moes ondergaan om dit te verwyder.

Magda, Belinda se dogter, het verlede jaar in Desember verskriklik siek geraak en hulle moes met haar hospitaal toe jaag. “Hulle het ‘n klomp bloedtoetse gedoen en in April het die laaste formele uitslae teruggekom. Haar regternier het heeltemal opgehou funksioneer.”

Belinda vertel hartseer hoe hulle sedert die diagnose elke week by die hospitaal was om ‘n datum te kry vir ‘n operasie om haar dogter se nier te verwyder.

“Die dokters het gesê dit moet so gou as moontlik gedoen word, omdat haar liggaam vergiftig kan word as ‘n dooie orgaan vir so lank in haar liggaam bly.”

Sy vertel omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, het die staatshospitaal hulle elke week weggewys en gesê dat daar nie plek is vir haar nie.

“Die laaste keer wat ons daar was, het hulle vir ons gesê ons moet oor twee maande terugkom. Magda was in trane en sy het vir my gesê daar is geen manier dat sy nog twee maande sal kan uithou nie,” vertel sy emosioneel.

Belinda het intussen by ‘n privaatdokter uitgevind oor die moontlikheid van ‘n operasie. “Een dokter het gesê hy sien nie kans om die operasie te doen nie, omdat daar moontlik komplikasies kan wees, aangesien sy nou al so lank met die nier loop. ‘n Ander dokter het gesê hy is bereid om dit te doen, maar ons het R60 000 nodig vir die operasie. As daar komplikasies sou voorkom, sal ons kyk na R100 000.”

“Ek doen alles vir haar, ek bad haar, help haar om die toilet te gebruik, gee vir haar kos. Sy is baie tranerig en slaap die meeste van die tyd. Ek wil net my dogter help.”

Belinda hoop dat die gemeenskap sal uitreik en help om haar dogter se operasie so gou as moontlik te laat realiseer.

As jy voel jy wil ‘n bydrae lewer, WhatsApp Belinda by 061 694 9591 of skakel 067 161 1228.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.