Die nuutste gelukkige wenner van ‘n boerpot van R33 107 623 is ‘n pensioenaris van Rustenburg.
Die trekking het op 28 Junie plaasgevind.
Die man, wat in sy 70’s is, sê hy speel al vir nege jaar Lotto.
Hy het sy kaartjie met R30 deur die outomatiese kiesprogram gekoop en die meeste wat hy al vantevore gewen het, was R80.
“Ek is so gelukkig dat ek die Powerball PLUS-boerpot kon wen. Ek gaan vir my vrou en my kind huise bou. Om hierdie bedrag te wen, sal vir seker ‘n groot verskil in my lewe maak!”
Die pensioenaris het vir die grootste deel van sy lewe in die mynbedryf gewerk en ontspan nou graag en kyk televisie.



