

Keesi Perdesport het verlede naweek hulle 35ste perdesportbyeenkoms op Vanzylsrus gehou en dit was ‘n reuse sukses. Nadat hulle vir twee jaar niks kon hou nie as gevolg van Covid-19, het hulle hierdie jaar groot gegaan. Marlize Booysen (nooiensvan Van Eeden) vertel dat hulle ongeveer 1 000 mense deur hulle hekke gehad het.

Marlize sê hulle het hierdie jaar ‘n nuwe baadjie aangetrek. “Ons het uitstallers genooi om te kom uitstal en ons het die rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Wallis op TV gewys. Ons het ‘n feestelike atmosfeer probeer skep met ‘n buitelug kuier.” Die aand het Altus Theart en Jerry Jam die gehoor vermaak met lekker musiek.

Oom Dysman van Eeden het Keesi 35 jaar gelede begin, en sy vrou, tannie Alta, en hulle drie kinders, Marlize, Leandri en Driaan, blaas elke jaar lewe in oom Dysman se nalatenskap en hulle bou op dit wat hy agtergelaat het.
Die fotograaf van die dag was Danelle Beukes. Sy het haar eie fotografie-besigheid, Selah, wat al een jaar oud is. Sy sê sy het haar besigheid “Selah” genoem, omdat dit to pause and reflect beteken. “Die woord ‘Selah’ kom 74 keer in die Bybel voor. Die sewe simboliseer perfeksie en die vier simboliseer vir ewig, en dit is presies wat ek wil uitspreek oor my foto’s.”

Danelle sê dit is die eerste jaar dat sy vir Keesi foto’s neem. “Dit is al ‘n jarelange tradisie om Keesi by te woon. Ek het helder en kleurvolle herinneringe uit my kinderjare van dié perdesport en dit is elke jaar ‘n voorreg om terug te keer en dit te herleef.” Danelle is ‘n kleinniggie van die Van Eedens en sy het op die plaas grootgeword en het elke vakansie daar deurgebring.




Vir Danelle is Keesi elke jaar ‘n bittersoet ervaring. “Oom Dysman wat Keesi begin het, was ‘n Kalahari-legende. Die troupantvoël is ook elke jaar teenwoordig by Keesi en ons glo dat dit oom Dysman is wat ‘n ogie oor sy perdesport gooi. Die perdesport bestaan al sedert 1984 en ek is elke jaar verstom oor al die voete wat dit trek. Die Keesi-span doen ‘n ongelooflike werk om alles te organiseer en om lof te bring aan oom Dysman van Eeden.”

Marlize nooi almal uit om volgende jaar weer saam te kom kuier en te dans. “Kom wees volgende jaar deel van hierdie ‘Kalahari July’ gebeurtenis.”




Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



