Buffelsfontein Brandewyn oorweeg regstappe ná lasterlike aantygings

Deel hierdie storie / Share this story

Buffelsfontein Brandewyn sê hy oorweeg regstappe na ‘n aantal lasterlike aantygings gemaak is oor die “egtheid” van sy produk.

Dié Suid-Afrikaanse handelsmerk sê daar is deur sekere persone ‘n doelbewuste veldtog begin om Buffelsfontein se reputasie, handelsmerk en produkte skade aan te doen deur dit in die publiek te belaster.

“Verskeie valse aantygings word gemaak oor die oorsprong, uniekheid en kwaliteit van ons produkte, spesifiek Buffelsfontein Lager (wat ook ons meegaande Draft-produk insluit).

Dié handelsmerk gaan dan voort en sê hy kan omonwonde bevestig dat Buffelsfontein-produkte uniek is en spesifiek na gelang van die handelsmerk se instruksies vervaardig word.

“Alhoewel ons, soos baie ander maatskappye, ook gebruik maak van nog vervaardigers ten einde die hoogste kwaliteit produk vir ons kliënte te waarborg, word alle produkte na gelang van ons spesifieke instruksies en voorkeure ontwikkel.”

“Alhoewel ons in hierdie stadium slegs kan spekuleer oor die redes vir hierdie aanval teen ons, blyk dat die veldtog vanuit ‘n dispuut tussen die persoon/e en derdepartye spruit. Verskeie stellings wat duidelik op verkeerde inligting en hoorsê gebaseer word, word nou as ‘feite’ versprei. Dit desnieteenstaande die feit dat, so is ons meegedeel, daardie persone reeds in die verlede deur regslui gewaarsku is dat hulle bewerings vals en lasterlik is.

“Ons versoek die publiek en ons ondersteuners om nie hierdie kwaadwillige en lasterlike bewerings verder te versprei of verdere suurstof te gee nie.

“Buffelsfontein konsulteer tans met ons regspan ten einde daardie persone wat verantwoordelik is vir hierdie aanval aan te spreek. Ons is reeds geadviseer dat die bewerings wat tans versprei word, vals, lasterlik en onregmatig is. As gevolg van die uitermatige kwaadwillige aanval word verdere regstappe tans oorweeg.”