Adré Els, bekende sakeman van Kimberley, is Woensdagoggend tragies oorlede.
Rikkie Alsemgeest, wyle Piet Els (Adré se pa) se lewensmaat, het die nuus aan FiND iT bevestig.
Alsemgeest sê besonderhede oor sy dood is nog nie bekend nie en dis ‘n baie hartseer saak vir die familie.
Els het die afgelope tyd inskrywings op sy Facebookblad gemaak. Hy het geskryf: “Here ek pleit die Bloed van Jesus oor my.”
Die laaste inskrywing op sy Facebookblad was ‘n Bybelvers wat Dinsdag geplaas is.


Medelye het van orals ingestroom.
Lesleigh van Wyk skryf: “Ek sal nie die vergeet nie. Ek sal JOU nie vergeet nie. Jy het so skaam gekry, want jou ‘sussies’ gee jou ‘n soen. Ai Adré..”
“Die lewe is kort. Jy was in ons almal se gebede en almal het probeer uitreik. Dit is baie hartseer en ons dink en bid vir almal wat geraak word.Rus sag vriend,” skryf Jacques Kriek.
Adré is die jongste seun van wyle Piet Els. Els (86) en Alsemgeest (62), altwee bekende sakelui van Kimberley, is die aand van 23 Januarie 2018 op Els se plaas net buite Kimberley aangeval.
Els was vir sowat vier maande ná die aanval in die hospitaal voor hy aan sy beserings beswyk het.
Els en Alsemgeest was saam op die plaas toe die aanvallers toegeslaan het. Alsemgeest en Els is vasgebind en met ‘n strykyster gebrand voor die aanvallers met ‘n Mercedes Benz, ‘n 33-30 jaggeweer, ‘n pistool, drie armhorlosies, Kruger-rande en ‘n ring gevlug het.



