Die nuus van Adré Els, bekende sakeman van Kimberley en seun van wyle Piet Els, se dood het vandag skokgolwe deur die Noord-Kaapse gemeenskap gestuur.
Die polisie het aan FiND iT bevestig dat die 41-jarige Jan Adriaan Els se liggaam vandag op sy plaas naby Schmidtsdrift in die veld gevind is.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê ‘n familielid het vanoggend omstreeks 11:00 op sy liggaam in die veld afgekom.
Hy het ‘n wond aan sy kop gehad en ‘n vuurwapen was ook op die toneel gevind.
Lt.kol. Kock sê die polisie vermoed geen vuilspel op die oomblik nie, maar dat enigiemand met inligting kapt. Stephen Mohithli by 072 202 9077 kan skakel.
Els het kort voor sy dood verskeie plasings op Facebook gemaak waarin hy in die een die bloed van Jesus oor homself pleit.
Nog ‘n plasing het gelees: “Here, vergewe hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie. Maak hulle harte opreg my God. Ontbloot ook die wat kwaad stook, my God.”
Medelye het op sy broer, Pieter Els, se Facebook-blad ingestroom.
Cornell Poggenpoel skryf:
“Adré Els, dit is so onwerklik, kan dit nogsteeds nie glo nie. Jy los ‘n groot leemte in BAIE mense se lewens. Duisende se harte is seer vandag en myne is gebroke. Vriende vir meer as 36 jaar. Pieter Els (Begun), ek dink aan jou en die res van die familie en vriende in hierdie tyd. Staan sterk en weet ek is net ‘n oproep ver weg.”
Sandri Marx se plasing lees: “Ek’s skoon geskok, weet almal se strepie is getrek, maar jy’s nog so jonk. Rus in vrede Adré, sterkte Pieter en julle familie deur die slegte tyd. Weet jy gaan gemis word Adré Els.”

As jy of ‘n geliefde ooit aan selfdood dink, skakel die selfdood-hulplyn by 0800 456 789 of 0800 567 567.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



