Eskom kondig fase 6-beurtkrag aan vir die week

Deel hierdie storie / Share this story

Eskom, wat sukkel met kragvoorsiening, het aangekondig dat hy Maandagmiddag sal voortgaan met die implementering van fase 6-beurtkrag, met verskillende stadiums van beurtkrag wat deur die loop van die week geïmplementeer sal word.

“Aangesien die opwekkingskapasiteitstekorte oor die volgende paar weke voortduur, sal beurtkrag steeds in verskeie stadiums geïmplementeer word. Eskom waarsku die publiek dat dit nog ‘n paar weke sal neem vir die kragopwekkingstelsel om ten volle te herstel tot voor-staking-vlakke,” het die kragvoorsiener gesê.

“Afhangende van verskeie moontlikhede – insluitend die werksmag wat ten volle terugkeer werk toe om broodnodige herstelwerk aan toerusting te doen – word daar verwag dat beurtkrag geleidelik tot fase 2 verlaag sal word teen volgende naweek.”

Eskom het gesê hy sal enige veranderinge “soos nodig mag wees” kommunikeer en implementeer.

Suid-Afrika steier tans onder fase 4-beurtkrag wat tot middernag sal duur. Fase 2-beurtkrag sal dan tot Maandagoggend 05:00 geïmplementeer word.

Bedags op Maandag, van 05:00 tot 16:00, sal fase 4-beurtkrag toegepas word totdat die situasie van 16:00 tot 22:00 vererger met die langer fase 6-kragonderbrekings.

“Vanaf Maandag 16:00 tot 22:00 sal fase 6-beurtkrag geïmplementeer word, voordat dit tot middernag na fase 4 verlaag word. Op Dinsdag sal fase 2-beurtkrag vanaf middernag tot 05:00 geïmplementeer word, voordat dit verhoog word na fase 4 om 05:00 tot 16:00. Fase 5-beurtkrag sal om 16:00 tot 22:00 geïmplementeer word. Beurtkrag sal dan tot middernag na fase 4 verlaag word,” het Eskom gesê.

“Ons het tans 3 384 MW aan beplande instandhouding, terwyl nog 18 319 MW se kapasiteit onbeskikbaar is weens onklaarrakings.”

Eskom het al sy werkers bedank wat vir diens aangemeld het “en wat voortgaan om ywerig te presteer onder uiters uitdagende omstandighede”.

Die kragvoorsiener het bygevoeg dat beurtkrag “net as ’n laaste uitweg” geïmplementeer word om die nasionale netwerk te beskerm.

“Ons doen dus ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om voort te gaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, veral gedurende hierdie onsekere tye op die kragstelsel,” het Eskom gesê.

Bronne: MSN, IOL, My Broadband

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Eskom-werknemers in Mpumalanga gaan aanhou staak