Eskom-werknemers by die Matla-kragstasie naby Kriel in Mpumalanga sê alhoewel hul staking die huidige deurlopende kragonderbrekings vererger het, sal hulle nie terugkeer werk toe voordat daar aan hul eise voldoen is nie.
Sowat 200 werknemers verbonde aan die National Union of Mineworkers (NUM) by die kragstasie staak en eis ‘n salarisverhoging.
Werkers eis ‘n 15%-salarisverhoging, terwyl die kragvoorsiener sy aanbod tot 7% hersien het.
Eskom het Woensdag aangekondig werknemers by sommige kragsentrales regoor die land het vreedsaam begin terugkeer werk toe nadat hulle sedert verlede week op ‘n ongemagtigde staking was.
Eskom het aangekondig hy het fase vier geïmplementeer vanaf vyfuur Donderdagoggend tot middernag. Dit sal hopelik Vrydag tot fase twee verminder word.
Die kragvoorsiener se woordvoerder, Sikhonathi Mantshantsha, sê die netwerk het beperk gebly weens Eskom-werkers se onbeskermde staking.
“Eskom gaan voort om die stelsel noukeurig te monitor en sal enige veranderinge implementeer soos nodig mag wees. Weens die onwettige arbeidsoptrede, wat wydverspreide ontwrigting van Eskom se kragsentrales veroorsaak het, is Eskom nie in staat om sommige kragopwekkers weer in diens te neem nie. Dit het Eskom genoop om voort te gaan om voorsorgmaatreëls te tref om noodopwekkingskapasiteit te bewaar en aanleg teen skade te beskerm. Daar bly ’n risiko dat die stadium van beurtkrag te eniger tyd sal moet verander, afhangende van die toestand van die aanleg.”
Bronne: SABC, Herald Live
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Fase 8: 48 uur sonder krag oor vier dae kom dalk, sê Eskom



