Eskom se bedryfshoof het nie die moontlikheid van Fase 8-beurtkrag in die volgende paar dae uitgesluit nie, aangesien nywerheidsoptrede by Eskom dreig om die land op sy knieë te dwing.
Belangrike instandhoudingswerkers het begin staak as gevolg van ‘n dispuut oor betaling, wat beteken dat daar minder hande is om te help om die verouderde infrastruktuur reg te maak sodra dit afgaan.
Sou Suid-Afrika vanaand soos voorspel na Fase 6 beweeg, sal dit waarskynlik die deur oopmaak vir nog erger kragonderbrekings voor die einde van die maand.
Jan Oberholzer het vanoggend die media toegespreek en het die stakende werkers as “selfsugtig” bestempel en beweer dat hul optrede die risiko van Fase 8-beurtkrag direk sal verhoog. Die volgende 72 uur sal dus deurslaggewend vir Eskom wees.
“As hierdie onwettige optrede voortduur, en as mense selfsugtig is, sal die risiko toeneem. Ons nader dalk ’n hoër stadium van beurtkrag, tot by Fase 8, as hierdie onwettige optrede voortduur. Menslike kapasiteit is belangrik en mense kan net soveel werk onder beperkings,” het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, gesê.
Vrydagoggend het Fase 4-beurtkrag begin. Dit het tot Sondagaand vir 51 uur geduur, voordat die onderbrekings tot hierdie week verleng is.
Andre de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het vanoggend aan die pers gesê Fase 4 sal waarskynlik “vir ‘n geruime tyd nog” by ons wees.
Bronne: MSN, The South African, Herald LIVE
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Eskom waarsku teen hoër beurtkragvlakke



