’n Fietsryer is Maandag op die N12 dood toe vragmotorkapers wat probeer vlug het van private sekuriteitswagte in hom vasgejaag het.
Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het gesê die noodlottige ongeluk het Maandagoggend omstreeks 09:30 op die N12-afrit in Etwatwa naby Sundra gebeur.
“Volgens die berig het twee Pakistanse burgers op die N12-pad, rigting Witbank, gery nadat hulle op Springs goedere gekoop het. Hulle is deur vier verdagtes in ‘n silwer Toyota Corolla, wat probeer het om hulle te kaap, afgetrek. Gelukkig het privaat sekuriteitswagte wat besig was om te patrolleer hierdie drama wat besig was om te ontvou opgemerk. ‘n Skietgeveg het tussen die sekuriteitswagte en die verdagtes ontstaan, waartydens twee verdagtes glo doodgeskiet is,” sê brig. Selvy Mohlala.
Die ander twee kapers het deur die sekuriteitspersoneel gejaag en in die rigting van Katboschfonteinweg in Sundra gevlug.
Naby Sundra het die kapers teen ‘n fietsryer vasgery terwyl hulle gevlug het om arrestasie te ontduik.
“Ongelukkig het die fietsryer wat beserings opgedoen het, gesterf. Nadat hulle in hom vasgery het, het die verdagtes die voertuig verlaat en te voet gehardloop, waarna hulle in die nabygeleë bosse verdwyn het. Die Sundra-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.”
Bronne: MSN, The South African, Sowetan LIVE
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Johnny Depp kan $301 miljoen kry om terug te keer as Jack Sparrow



