Sukkelende verbruikers moet regmaak vir nog brandstofprysverhogings

Deel hierdie storie / Share this story

Kenners het verbruikers gewaarsku om voor te berei vir nog ‘n skerp brandstofprysverhoging volgende week.

Die AA het gewaarsku dat verbruikers ’n verhoging van sowat R2 vir die prys van petrol en diesel kan verwag.

Layton Beard, AA-woordvoerder, het gesê ongeouditeerde brandstofprysdata van die Sentrale Energiefonds toon ‘n moontlike styging van R1,80 in die prys van petrol en ‘n styging van R1,60 in die prys van diesel.

“Die belangrike ding om te onthou, is dat die minister van finansies en die minister van minerale hulpbronne en energie gesamentlik aangekondig het dat die algemene brandstofheffing van Maart tot Junie met R1,50 verminder is. Vir Julie sal die algemene brandstofheffing met net 75 sent verminder. In werklikheid sal daardie 75 sent wat by die algemene brandstofheffing teruggevoeg word die brandstofprys tot meer as R2 opstoot, en dit sal baie kommerwekkend vir verbruikers wees,” het Beard gesê.

Beard het bygevoe dit sal ‘n groot impak op die ekonomie hê.

“Wanneer die brandstofprys styg, raak dit elke individu in die land en ons moet hieroor bekommerd wees. Brandstof het ’n uitkringeffek en ons kan verwag dat die pryse van goedere en alles gaan styg,” het Beard gesê.

Bronne: MSN, IOL, Pressreader

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Eskom-werknemers in Mpumalanga gaan aanhou staak