’n Swemmer wat Dinsdag by Sanctuary Beach in Plettenbergbaai deur ’n haai doodgemaak is, is as Bruce Wolov geïdentifiseer.
’n Familieboodskap op Facebook deur Galya Wolov lui: “Ons sal hom onthou as ’n liefdevolle man, ons pa en vriend, wat veels te gou van ons weggeneem is, terwyl hy gedoen het waaroor hy passievol was.”
Aandelemakelaar David Shapiro, wat sy hartseer uitgespreek het, het gesê Wolov was ‘n langafstandswemmer en ‘n bekende persoonlikheid in aandelemakelaarskringe.
“Om so iemand te verloor, is skokkend en baie hartseer vir die familie en ons gemeenskap,” het Patty Vollert Butterworth, uitvoerende hoof van Plett Toerisme, gesê.
“Die slagoffer se familie en vriende is vandag die belangrikste in ons gedagtes, en ons wil ons innige meegevoel met hul verlies betuig.”
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut is die dodelike haai-aanval Dinsdag omstreeks 14:00 deur ‘n ooggetuie aangemeld.
“NSRI-reddingswemmers het direk op die toneel gereageer en twee NSRI-reddingsbote is gelanseer. By aankoms op die toneel is die liggaam van ‘n volwasse man, vermoedelik ‘n plaaslike man, opgespoor en in die water by die agterste branderplanklyn gevind. Die liggaam is op ‘n NSRI-reddingstuig geplaas en na die NSRI se Plettenbergbaai-reddingstasie gebring,” het die instituut gesê.
Die NSRI en die Bitou-munisipaliteit doen ‘n beroep op baaiers, roeiers, swemmers, branderplankryers en bootvaarders in Plett en langs die Suid-Kaapse kuslyn om uiters versigtig te wees ná die noodlottige voorval.
Die strande sal tot verdere kennisgewing vir wateraktiwiteite gesluit bly.
Bronne: Times LIVE, The Sun
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Strande gesluit ná noodlottige haai-aanval in Plettenbergbaai



