Polisielid red bedlêende oupa en drie kinders uit brandende huis

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Bejaarde man en drie kinders is uit ‘n brandende huis gered toe drie heldhaftige polisielede sonder huiwering opgetree het om die gesin in hul uur van nood te help.

Sers. Neville Mouton, konst. Melvin de Wee en reservis konst. Ricardo van Wyk het op 18 Junie in Witrand op Kakamas patrollie gedoen toe hulle ‘n huis wat aan die brand was, gesien het.

Kapt. CJ Prins, polisiewoordvoerder, sê die lede het vinnig reageer en water in emmers bymekaargemaak om te probeer om die vuur te blus.

Van Wyk het vinnig gedink en die brandende huis binnegegaan om die persone in die huis te red.

“Omdat die voordeur reeds toe onder die vlamme was, het hy ‘n venster gebreek om by die bejaarde man uit te kom. Hy het hom na die venster gedra waar die ander lede hom deur die venster na buite aangevat het.”

Van Wyk het volgens kapt. Prins toe gehoor hoe ‘n kind in die huis huil en weereens het hy deur die venster geklim. In die huis het hy drie kinders van onderskeidelik 2, 4 en 11 jaar oud op ‘n bed gekry.

Hy het hulle ook deur die venster na veiligheid geneem.

Kapt. Prins sê die brand is later geblus, maar die huis het ernstige skade gekry.

Sers. Neville Mouton en konst. Melvin de Wee

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.