Elektrisiteitsvoorman met ernstige beserings in hospitaal na substasie ontplof

Deel hierdie storie / Share this story

Die Sol Plaatje-munisipaliteit se elektrisiteitsvoorman is tans met ernstige beserings in die hospitaal in Bloemfontein opgeneem na die Aviva-substasie gister in Kimberley ontplof het.

FiND iT was gister op die toneel na die substasie in Avivaweg in Hillcrest ontplof het. Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê drie van die Sol Plaatje-werknemers was besig om ‘n stroombreker aan die substasie te vervang toe die boks ontplof het.

Die elektrisiën, Faik Adams, was saam met twee leerlingselektrisiëns toe die voorval plaasgevind het.

“Adams is tans in die hospitaal in Bloemfontein opgeneem, maar is stabiel,” het Riet vanoggend aan FiND iT bevestig.

W. Camieldien, een van die leerlingselektrisiëns, het ligte beserings opgedoen en is steeds by ‘n plaaslike hospitaal opgeneem. P. Molefe, die ander leerlingselektrisiën, het nie beserings opgedoen nie, maar ontvang nou behandeling vir die skok. “Sy sal ook sielkundige berading moet ontvang vir die trauma wat sy moes ervaar.”

Inwoners in die area was ook sedert die ontploffing sonder elektrisiteit. “Die herstelwerk aan die kragboks is vanoggend om 02:00 voltooi,” sê Riet. “Werkers het deurnag gewerk om die herstelwerk klaar te maak sodat inwoners weer elektrisiteit kon hê.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.