#FinalSalute vir polisielid wat in koeëlreën sterf

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in die Wes-Kaap het Woensdag van konst. Shamielah Arendse (26), wat op 21 Junie voor haar huis doodgeskiet is, afskeid geneem.

Arendse, wat by die Tafelbaai-polisiestasie gewerk het, is Dinsdagaand omstreeks 19:40 deur drie onbekende verdagtes doodgeskiet terwyl sy saam met haar vriende op haar woonstel se trappe gesit en na musiek geluister het.

’n Vriendin en getuie, wie se naam om veiligheidsredes nie genoem word nie, het gesê sy is bang die verdagtes kan “agter haar aankom”.

“Ons het net hier met twee van ons vriende gesit en musiek geluister en gesels. Drie ouens het van die hoek af gekom en op haar begin skiet, en toe hulle geskiet het, het sy oor my geleun. Ek kon voel hoe sy oor my val en ek het gehardloop, maar hulle het aangehou om haar te skiet. Nadat hulle haar geskiet het, het die verdagtes die twee ouens saam met wie ons was agternagesit, maar hulle kon hulle nie kry nie en toe hulle die twee ouens agternagesit het, was ek reeds in die huis, maar ek kon hulle hoor vloek,” het sy gesê.

Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Sy het gesê die Valke het die ondersoek oorgeneem.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

(Foto: South African Police Service, Facebook)
(Foto: South African Police Service, Facebook)