46 migrante dood in verlate vragmotor gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Ten minste 46 migrante is Maandag dood gevind in die sleepwa van ‘n vragmotor wat langs die pad gestaan het.

Charles Hood, brandweerhoof van San Antonio, Texas, Amerika, sê minstens 16 mense is lewend uit die vragmotor gered en na ‘n hospitaal gejaag vir behandeling.

Nog drie slagoffers is later in ‘n hospitaal in San Antonio dood.

Polisie en nooddienste het ook die omliggende veld en area deursoek om te kyk of daar nie ander passasiers is wat uit die vragmotor gespring het voor dit tot stilstand gekom het nie.

Beamptes het op nog drie persone se liggame afgekom. Die polisie in San Antonio sê die moontlikheid bestaan dat die persone uit die vragmotor geval het toe die deur oopgemaak is.

Hood sê die persone wat na die hospitaal geneem is, was “warm wanneer jy aan hulle raak”, toe hulle uit die vragmotor gered is.

Die oorsaak van die sterftes is nog nie bekend nie, maar beamptes meen ekstreme hitte kon tot hulle dood bygedra het.

‘n Werknemer van ‘n plaaslike besigheid het omstreeks 18:00 op die verlate vragmotor afgekom na hy “hulpkrete” vanuit die sleepwa gehoor het.

Drie mense is in hegtenis geneem. Dis nog nie bekend of die vragmotorbestuurder een van dié drie verdagtes is nie.

Die saak word ondersoek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.