Altesaam 22 minderjariges is glo dood in taverne gekry

Deel hierdie storie / Share this story

Ouers en familie het vanoggend buite die gruwelike toneel by Enyobeni-taverne in Scenery Park in Oos-Londen bymekaargekom om uit te vind of hul kinders onder die dooies is wat in dié taverne gekry is.

Omstandighede rondom die dood van die minderjariges is nog onduidelik. Volgens berigte lê liggame gestrooi oor tafels, stoele en op die vloer, met geen duidelike tekens van beserings nie.

Die liggame word nou na die Westbrook-lykshuis geneem, waar familie gevra is om die liggame te identifiseer.

Joernaliste wat op die toneel was, beskryf die toneel by die taverne in Oos-Londen as “bisar” waar liggame op die grond lê asof hulle “in die middel van ‘n gesprek of op die dansvloer inmekaargesak het”.

FiND iT het ook foto’s van die toneel gesien.

Daar word vermoed die persone is in die taverne vergiftig of in ‘n vertrapping dood. Daar is egter geen sigbare wonde aan die liggame nie.

Die polisie is op die toneel.

Geen verdere inligting is beskikbaar nie.

FiND iT het by die polisie navraag gedoen, maar wag nog vir terugvoer.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.