‘Dankie Here, dat U my gaan genees,’ sê klein Mienke se ma

Deel hierdie storie / Share this story

Verna Mulder, klein Mienke Mulder se ma, gaan Maandag vir haar vierde chemoterapie-sessie.

Op die Facebook-groep Please Pray for Mienke, wat aanvanklik vir Mienke gestig is, deel Verna foto’s van die pad wat sy gestap het sedert sy met borskanker gediagnoseer is.

“Die chemo bang ek niks,” skryf sy. “Dis al daardie newe-effekte wat my moed sommer in my skoene laat sak as ek daaraan dink. Dit maak my maar lekker siek.”

“Buiten vir die feit dat ek nie meer ‘n haar op my kop oorhet nie, en my wenkbroue sulke lekker gapings het soos die hare uitgeval het, dink ek lyk ek maar heel okay.”

Sy bedank ook almal op dié groep en op Facebook vir al die boodskappe van omgee en liefde wat sy ontvang.

“Baie dankie vir elkeen se omgee en liefde, dit beteken ongelooflik baie. Net sodra jy dink jy is ‘alleen’, besef ek net weereens, ek is nie alleen nie. Die afgelope drie maande was maar ‘n lekker rollercoaster… Fisies en emosioneel.”

Sy skryf verder sy het ná Maandag se vierde chemosessie nog twaalf sessies wat weekliks sal plaasvind. “Die dokter gaan na Maandag se sessie weer skanderings en toetse doen om te kyk of die chemo sy werk doen.”

“Verder is ek net dankbaar en sê ek dankie Here, dat Hy my gaan genees.”