Vrou met 50 persoonlikhede vertel dis ‘n ‘voltydse werk’

Lodge het glo met 30 verskillende dokters gepraat oor haar toestand voor sy in 2018 gediagnoseer is.

(Foto: News Rebeat)

(Foto: News Rebeat)

‘n Dertigjarige vrou van Nieu-Seeland was vier jaar oud toe sy vir die eerste keer die simptome van ‘n gesplete persoonlikheid begin ervaar het. Op die ouderdom van 26 is sy vir die eerste keer met dissosiatiewe identiteitsteuring gediagnoseer en sy vertel nou oor die lewe met 50 verskillende persoonlikhede.

Mel Lodge, ‘n voormalige balletonderwyseres, vertel sy deel haar liggaam met 50 verskillende persoonlikhede wat daagliks vyf na 20 keer haar liggaam oorneem.

Wanneer van die persoonlikhede oorneem, sukkel sy later in die dag om te onthou wat in sekere dele van haar dag gebeur het.

Om haar verskillende persoonlikhede te respekteer, verwys sy na haarself as “ons” pleks van “ek”.

Sy vertel vandat sy ‘n TikTok-rekening oopgemaak het en daar begin het om haar lewe te deel, kry sy baie lelike kommentaar van mense wat nie glo dat dit ‘n werklikheid is nie.

“Dis net vir mense moeilik om te verstaan dat dissosiatiewe identiteitsteuring nie so skaars is nie en dat dit nie so dramaties is soos in die flieks nie.”

“Ons het ons hele lewe lank al stemme gehoor, maar ons het nooit besef dis eintlik verskillende dele van ons nie. Ons het nooit daaroor gepraat nie, en ons was bang oor wat dit moontlik kon beteken.”

Sy sê die verskillende pesoonlikhede kom na vore wanneer sy soms met ‘n vriend gesels en die vriend iets sê wat daardie persoonlikheid aanwakker. Sy sê sy raak soms baie deurmekaar en angstig wanneer ‘n spesifieke deel na vore kom. “Ons skryf nou alles op witborde neer en ons het ‘n klompie lêers wat ons gebruik om voorbereid te wees vir al die moontlike dele wat na vore kan kom.”

Sy sê sy “roep” soms ‘n spesifieke persoonlikheid na vore wanneer sy na haar onderskeie afsprake gaan. “Byvoorbeeld, Anna gaan gewoonlik na ons afsprake by die dieetkundige.”

Lodge het glo met 30 verskillende dokters gepraat oor haar toestand voor sy in 2018 gediagnoseer is, en sê haar sielkundige het die meeste van haar persoonlikhede ontmoet. “Ons weet wanneer ‘n nuwe persoonlikheid na vore kom, want dis daardie deel wat dan met ons sielkundige praat.”

Van Lodge se verskillende persoonlikhede is die sewejarige Sky, wat daarvan hou om in te kleur en gereeld woedeuitbarstings het, die 19-jarige Tammi wat anti-sosiaal en beskermend is en dikwels kwaad voorkom, Anna (16), ‘n balletdanser wat sag praat, optimisties en perfeksionisties is, en die 18-jarige Zara, verantwoordelik en georganiseerd, wat verantwoordelik is vir Lodge se daaglikse roetine.

“Toe ek gediagnoseer is, was dit huge,” vertel sy. “Mel het dit in die eerste jaar heeltemal ontken. Maar ons werk nou daaraan, en ons kan sien dat ons uiteindelik die regte behandeling kry.” – Mirror, MSN, Netwerk24, News Rebeat

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.