‘Dra jou wonde met trots,’ vertel sy, een jaar na plaasaanval en verkragting

(Foto's: Facebook)

(Foto's: Facebook)

Op 15 Maart verlede jaar is Corlene van Wyk, ‘n vrou en ma van Helenasrus, op haar kleinhoewe aangeval, verkrag en drie keer geskiet, onderskeidelik in haar hand en been.

Vandag, meer as ‘n jaar na die voorval, vertel Van Wyk aan FiND iT dat sy nooit weer dieselfde mens sal wees nie, maar dat dit wat gebeur het, van haar ‘n beter mens gemaak het.

“Ek het maklike en moeilike dae. Ek moes leer om die verlede te verwerk en nie terug te kyk nie, maar vorentoe te leef vir God, my man en my seun.”

Van Wyk het die oggend van 15 Maart wasgoed opgehang toe twee mans haar skielik oorrompel het. Sy is daar verkrag, aangerand en die een man wat eers in die huis in was, het met ‘n vuurwapen uitgekom. Hy het net begin skiet en drie van die skote het Van Wyk getref.

Sy vertel sy was vir drie weke in die hospitaal opgeneem waar sy behandeling vir haar verskeie beserings ontvang het. Sy was daarna ook in die traumasentrum opgeneem.

Sy vertel sy woon steeds op die kleinhoewe. “Ek wou met alle mag so vinnig as moontlik hier wegkom,” sê sy. “Maar finansieel kon ons dit nie bekostig nie. Ek het Bullet, my vorige Belgium Malinois, in Januarie verloor as gevolg van die klappers. Ek het drie maande terug besluit om weer een te kry om veiliger te voel. Hy is my ‘service dog’ wat deur my psigiater voorgeskryf is.”

Sy sê hulle het ook ekstra spreiligte, ogies en paniekknoppies op verskeie plekke in die huis opgesit.

“Ek kan nogsteeds nie alleen buite sit nie. En ek sal nooit weer alleen wasgoed ophang of afhaal nie.”

Die verdagtes is nogsteeds nie in hegtenis geneem nie en Van Wyk sê die polisie het nog geen verdere inligting bekom nie.

“Ek het maklike en moeilike dae. Ek moes leer om die verlede te verwerk en nie terug te kyk nie, maar vorentoe te leef vir God, my man en my seun. Ek sal nooit weer dieselfde wees nie, maar dit het my ‘n beter mens gemaak.”

Sy vertel sy het baie boodskappe van regoor die land ontvang dat mense haar as ‘n inspirasie en ‘n voorbeeld sien. Sy hoop ook dat haar getuienis iemand uit die donker kan help.

“Om so iets deur te gaan, is letterlike hel en duisternis. Al hoe mens daardeur kan kom, is om jou oë op God te hou en in die lig in te beweeg. Wees trots op jou wonde, dit maak jou sterker. Wanneer Jesus eendag terugkom, gaan hy nie met geneesde wonde terugkom nie, Hy kom terug met gate in sy hande en voete. Dra jou wonde met trots.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.