’n Reis na Hluhluwe Imfolozi-park in KwaZulu-Natal het in ‘n groot drama vir twee besoekers geëindig nadat ’n olifantbul hul motor opgelig en in ’n sloot langs die pad gegooi het.
Dit was Woensdag net ná middagete toe die insittendes van ‘n wit Ford Figo ‘n noue ontmoeting met die olifant gehad het op die pad van Memorial Gate na Hilltop Resort.
Toe die bestuurder van die motor die oënskynlik ontspanne olifant opmerk wat hulle nader, het hy na die kant van die pad beweeg om die dier te laat verbygaan, volgens die parkreël wat diere voorrang gee. In plaas daarvan om verby te loop, lê die olifant toe sy slurp op die enjinkap neer.
Toe die bestuurder die voertuig in beweging wou bring, het die olifant die een passasiersvenster met ‘n slagtand stukkend geslaan.
“Dit het die kar gelig soos rugbyspelers mekaar in ‘n lynstaan oplig. Die dier het ongelukkig besluit om nie hierdie algemene rugbyaksie te voltooi nie, maar eerder die kar in ‘n sloot langs die pad te gooi,” het Velenkosini Ntombela, veldwagter van Ezemvelo, wat die voorval gesien het, gesê.
“Asof dit nie skrikwekkend genoeg was nie, het die olifant voortgegaan om die motor se agterkant aan te val voordat hy besluit het dat dit nie die moeite werd is om sy energie te mors op ’n voorwerp wat nie terugbaklei nie, dus het hy teruggeval.”
Volgens Ntombela was die aanval binne ‘n oogwink voltooi en het die olifant teruggedeins “asof hy in sy hoek staan om die bokswedstrydskeidsregter tot 10 te laat tel voordat hy die geveg verby verklaar het”.
Dit het eers wegbeweeg in die bosse in toe Ntombela ‘n veilige waarskuwingskoot afgevuur het toe dit gelyk het asof die olifant weer die motor met sy bewerige insittendes wou nader.
Die twee geskokte insittendes het ongeskonde van die vernielde motor in die veldwagter se motor oorgeklim.
Die beskadigde motor is weggesleep.
Ntsikelelo Dlulane, waarnemende uitvoerende hoof van Ezemvelo, het sy verligting uitgespreek dat daar geen lewensverlies was nie, en bygevoeg dat dinge lelik kon geword het.
“Ek is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie en beide insittendes het die beproewing sonder enige sigbare beserings oorleef. My waardering gaan ook aan mnr. Ntombela wat kalm gebly het onder moeilike omstandighede. Ons sal nooit weet wat sou gebeur het as hy paniekerig geword het en besluit het om die olifant te skiet nie,” het hy gesê.
Bronne: MSN, Times LIVE
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



