Busbestuurder bewusteloos van daggalekkers

Chen het met die hulp van ‘n tolk aan die hof gesê hy het nie geweet dat die lekkers wat hy geëet het, dagga bevat nie.

Busbestuurder wat flou geword het beweer hy het nie geweet van dagga in lekkers nie

Busbestuurder wat flou geword het beweer hy het nie geweet van dagga in lekkers nie foto: MSN

’n Kommersiële busbestuurder is in Boston, VSA, gearresteer op aanklag van roekelose bestuur nadat hy agter die stuurwiel flou geword het. Hy het jellielekkers geëet wat THC – die aktiewe bestanddeel in dagga – bevat het.

Die beskuldigde, Jinhuan Chen, het volgens Associated Press (AP) Dinsdag 14 Junie in die hooggeregshof in Bridgeport verskyn.

Chen het met die hulp van ‘n tolk aan die hof gesê hy het nie geweet dat die lekkers wat hy geëet het, dagga bevat nie. Die voorval het op 13 Maart plaasgevind.

Chen het 38 passasiers van die Mohegan Sun-casino aangery. Hy het daarin geslaag om die voertuig na die kant van Interstate 95 in Stratford te trek.

Toe die polisie by die toneel aankom, het hulle die beskuldigde bewusteloos agter die stuurwiel langs ‘n pakkie Smokies Edibles Cannabis Infused Fruit Chews gevind.

Toe sy bloed getoets is, is gevind dat hy ‘n hoë vlak van THC in sy sisteem het.

Victor Chen, die bestuurder van Go Go Sun Tour, by wie die beskuldigde in diens is, het aan Hearst Connecticut Media gesê die beskuldigde ry al 10 jaar vir die maatskappy en het ‘n voorbeeldige rekord.

“Hy drink nie, hy rook nie, maar hy het ‘n soettand en hou van lekkergoed,” het Victor Chen gesê. “Dit sou nooit ’n paar jaar gelede gebeur het nie. maar nou is daar oral dagga hier,” het hy bygevoeg.

Chen is in aanhouding. Sy volgende hofverskyning is op 25 Augustus.

Bronne: MSN, The South African, Economy24

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.