Solidariteit gaan strafkostes vra as gesondheidsregulasies bly

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het ʼn skrywe aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, gestuur waarin geëis word dat die omstrede gesondheidsregulasies teruggetrek word. Indien die minister dit nie terugtrek nie, gaan Solidariteit vra vir ʼn bestraffende kostebevel.

Solidariteit se aansoek waarin gevra word dat die regulasies ongeldig verklaar word, word op 25 – 27 Julie in die hof geargumenteer. Solidariteit eis dat die regulasies voor daardie datum teruggetrek moet word. Organisasies soos AfriForum se aansoek word op dieselfde dag aangehoor.

Solidariteit se eis volg nadat die minister se rekord in die saak geliasseer is. Volgens Solidariteit bevestig die regering se eie rekord dat die regulasies onregmatig is.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die regulasies duidelik substantief en prosedureel onregmatig. Om die omstrede regulasies in die hof te gaan verdedig, gaan belastingbetalers se geld en die hof se tyd mors.

Volgens die skrywe van Solidariteit moet die regulasies aan ʼn maatstaf van rasionaliteit gemeet word. Die regulasies slaag nie die rasionaliteittoets nie. Dit is so duidelik dat dit nie vir ʼn regter nodig is om dit te bevind nie.

Volgens Solidariteit het die minister sy eie adviesraad geïgnoreer wat aangedui het dat die dra van maskers in die buitelug nie wetenskaplik verantwoord kan word nie, en dat die onvoorwaardelike dra van maskers binnenshuis ook nie die regstoets sal slaag nie.

“Hierdie regulasies gaan nie oor maskers nie, maar oor mag en beheer. Die minister wil deur hierdie regulasies die tydelike Covid-19-beheermaatreëls in permanente beheermaatreëls omskep,” sê Hermann.

Volgens die ministeriële adviesraad was die maatreëls wat ingestel is, onvoldoende om die verspreiding van die virus te keer, maar dieselfde maatreëls word nou weer in nuwe regulasies afgekondig.

Die substantiewe immuniteit van die bevolking deur inentings en infeksies word ook nie in die regulasies in ag geneem nie. Dit lyk of ou regulasies net gekopieer en geplak is sonder om nuwe omstandighede in ag te neem. Die minister het die ministeriële adviesraad se aanbevelings net eenvoudig geïgnoreer.

Die rekords van die regering wys ook dat kommentare wat gelewer is nie behoorlik in ag geneem is nie. Duisende kommentare was nog nie eens geprosesseer toe die regulasies gepubliseer is nie. Die minister het ook die verpligte kommentaartyd van drie maande geïgnoreer. Die minister het ook nie met die Nasionale Gesondheidsowerheid gekonsulteer soos vereis nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.