God: die ‘drogbeeld’ van die Ou Testament

Deel hierdie storie / Share this story

Daar is twee goed waaroor jy nie by ’n braai praat nie: politiek en godsdiens. Laasgenoemde het dr. Johan Retief onomwonde aangepak in sy nuwe boek, Die slegte nuus van die evangelie.

Christene moet baie durf aan die dag lê as hulle dié boek lees, want Retief draai nie doekies om nie. Hy het as kapelaan in die weermag diens gedoen, in 1984 sy doktorsgraad in teologie behaal, daarna gemeentes in Swellendam en Belville bedien, was ombud van die Persraad van Suid-Afrika vir 10 jaar en is nou ’n uitgesproke ateïs.

LEES OOK: Wetenskap wys Amber Heard het mooiste gesig ter wêreld

Wat hom tot dié plek in sy lewe gelei het, sê Retief, het dekades se wroeging en soeke geneem. Hy beskryf die God van die ou testament as ’n “drogbeeld” en “monster” – ’n “wrede tiran, wat bloed soek om Sy toorn te blus, wat opdragte tot volksmoorde gee” en boonop jaloers is.

Retief, vanuit sy huis op Yzerfontein, waar hy en sy vrou, Betsie, nou woon, verduidelik die God van die Ou Testament is vir hom ’n skrikwekkende figuur. “”Mense wat die Ou Testament met oop oë lees, sal dit verstaan.”

‘God bestaan net in mense se verbeelding’

Hy verwerp die idee van ’n persoonlike God, dat die mens na die beeld van God geskep is en sê eerder God is na die beeld van die mens geskep. Die “God” wat mense aanbid, bestaan net in hulle verbeelding en hy wil nie langer deel wees daarvan om mense te “mislei, verkul, verneuk, verblind, verlam of om die bos lei nie”.

Ben du Toit was Retief se voorloper met die boek, God: Is daar ’n ander antwoord? en het die deur oopgemaak vir meer gewaagde religieuse vrae rondom godsdiens en spesifiek die Christendom. Retief het met sy boek die poorte heeltemal oopgegooi en staan nie terug vir moeilike onderwerpe soos homoseksualiteit, vroueregte, slawerny, Jesus se tyd in Indië, die maagdelike geboorte, die “mite” van die openbaring en dat aanbidding afgodery is, nie.

Kritiek, maar ook bedankings

Die kritiek, soos verwag, is fel. “Ek het my op die kritiek voorberei, maar soms is die intensiteit van die kritiek meer as wat ek verwag het. Dit is veral die mense wat die man speel – en nie die bal nie – wat oorboord gaan.” Aan die kritiek steur hy hom min. “Baie mense lewer kommentaar sonder dat hulle die boek gelees het. Hulle wil bloot maar getuig, maar sonder om na te dink oor die vrae waarmee ek en so baie ander mense worstel. Ek kry ook ongelooflik baie goeie kommentaar. Mense wat my bedank. Ek het vandag juis weer so ’n e-pos gekry van iemand wat onder meer gesê het hulle weet die lewe is nie maklik nie, maar dat uit die pyn wat mens moet verduur, is daar deur die boek nuwe lewe wat nooit voorheen daar was nie in baie mense gebore.”

Is God swakker as die duiwel?

Retief sê hy het in sy soeke na die waarheid tot die besef gekom dat as die duiwel in die hel regeer, beteken dit dat daar êrens ’n plek of toestand is waar God nie teenwoordig is nie – of, as Hy wel teenwoordig is, dat Hy swakker as die duiwel is. “Dit bevraagteken, en fundamenteel so, God se almag en/of sy alomteenwoordigheid.”

Hy raak godsdiens en wetenskap aan en dit gaan sy verstand te bowe dat daar steeds gelowiges is wat evolusie betwis. Retief bespreek duiwel-uitdrywing en hoekom Paulus, Lukas en trouens die hele Bybel, nie goddelike gesag kan dra nie. Hy vergelyk Jesus met Boeddha en ondersoek die moontlikheid dat Jesus in ’n diep meditasie was aan die kruis. “Mense wat die boek gelees het, stem met my saam. Dit het gewoonlik twee tot vyf dae geneem vir ’n gekruisigde om te sterf – van uitputting, dors, ens. Jesus was nie langer as ses ure aan die kruis nie. Die moontlikheid dat Jesus in diepe meditasie was, het ek nie as ’n feit gestel nie – dit is egter wel ’n besliste moontlikheid.”

Bevordering van godsdiens hoort nie in skole

Die verskil tussen kennisoordrag van religieë en die bevordering daarvan is vir Retief ’n teer punt. “Die bevordering van enige religie in opvoedkundige instellings is indoktrinasie en hoort nie tuis in ’n moderne, demokratiese en sekulêre land soos ons s’n nie. Daar is geen bewyse dat dit net religie is wat morele waardes bied nie. Ek het redelik uitvoerig daaroor geskryf toe ek die situasie in ons land met dié van Denemarke vergelyk het. In laasgenoemde land is daar meer ateïste as gelowiges – en tog is hul waardestelsel(s) van so ’n aard dat hul misdaadsyfers baie beter as ons s’n is. Godloos is nie gelyk aan goddeloos nie.”

Verloor vriende

Retief erken hy het vriende en selfs familielede deur sy sienings verloor. “Dit is moeilik om vriende te bly met mense wat jou so slegsê dat die see jou nie kan afwas nie. Gelukkig is nie almal onverdraagsaam nie. Ook nie sommige Christene nie.”

Tog, erken hy, is sy reis nog nie voltooi nie. Ek sal nie ophou soek nie. Ek dink nie ek het nou al die wysheid in pag nie. Wat ek in die boek geskryf het, het ek geskryf met die lig wat tans tot my beskikking is. Wie weet, dalk lei my soektog my in die toekoms na ander weë? Maar ’n terugkeer na my vroeëre naïwiteit kan ek my kwalik voorstel.”

As jy ’n soekende Christen is of iemand wat graag antwoorde soek op ongemaklike vrae wat meeste te bang is om te vra, pak Retief dié vrae prontuit aan. Hy verwerp die idee van ’n hemel en ’n hel. ’n Siel. ’n Hiernamaals.

“Dit kos moed om vir jouself te dink. Maar uiteindelik is dit die moeite werd – selfs saam met die verguising wat altyd daarmee gepaard gaan. Hierdie is ’n produk van jare, nee, dekades, se gewroeg om sin te probeer maak van wat dit wat al hoe meer sinloos en later selfs sinneloos geword het.”

Die slegte nuus van die evangelie: my reis na verlossing, word deur Naledi uitgegee en is in alle groot boekwinkels beskikbaar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.