Geen meer Internet Explorer na 27 jaar

Tans is Google Chrome, Apple se Safari en Mozilla Firefox oorheersend.

Geen meer Internet Explorer na 27 jaar

Geen meer Internet Explorer na 27 jaar foto: BBC

Microsoft gaan uiteindelik die verbruikersweergawe van Internet Explorer staak. Dit het verlede jaar die plan aangekondig, wat Internet Explorer 11 sy finale weergawe maak.

Internet Explorer het in 1995 op Windows-rekenaars verskyn en teen 2004 het dit 95% van die mark gehad.

Tans oorheers Google Chrome, Apple se Safari en Mozilla Firefox die mark. Gebruikers wat by Microsoft wil bly, kan Microsoft Edge, wat in 2015 bekendgestel is, saam met Windows 10 gebruik.

Internet Explorer se gewildheid is geknou deur die bekendstelling van vinniger blaaiers soos Chrome en Firefox, aangesien gebruikers nuwe toepassings aangegryp het om platforms soos Google Search, Facebook en YouTube te navigeer.

Die opkoms van slimfone het Explorer waarskynlik die nekslag toegedien, met Apple se voorafgeïnstalleerde Safari-blaaier en Google Chrome op Android-fone wat gehelp het om internettoegang en -gebruik na die mobiele gebied te verskuif.

Mobiele en tablet-internetgebruik het rekenaars wêreldwyd vir die eerste keer in Oktober 2016 verbygesteek, volgens die onafhanklike webontledingsmaatskappy StatCounter.

Vroeër daardie jaar het StatCounter bevind Google Chrome maak meer as 60% van rekenaarinternetgebruik wêreldwyd uit, met Internet Explorer en Edge se gesamentlike aandeel in die rekenaarmark ‘n kortkop agter Firefox.

Edge behou ‘n ingeboude “IE-modus” vir ontwikkelaars en diegene wat toegang tot verouderde toepassings wil hê.

Microsoft sê toegang tot sy ou rekenaarblaaier sal op ouer weergawes van Windows behou word, insluitend Windows 8.1, Windows 7 uitgebreide sekuriteitsopdaterings en beperkte weergawes van Windows 10.

Internet Explorer se nalatenskap sal sekerlik voortleef ná sy “aftrede”, aangesien dit al meer as twee dekades lank vooraf op Windows-rekenaars geïnstalleer is.

In 1995 het Bill Gates, medestigter van Microsoft, gesê die bekendstelling van Windows 95 – en Internet Explorer daarmee saam – sou deel vorm van die tegnologiereus se pogings om die “internetvloedgolf” te ry.

Terwyl sy visie van “‘n mikrorekenaar op elke lessenaar en in elke huis, met Microsoft-sagteware,” dalk nou lyk na die droom van ‘n vervloë era, sal Internet Explorer onthou word as een van die sleutelinstrumente wat die manier gevorm het waarop die internet gebruik is en selfs vandag nog gebruik word.

Bronne: BBC, CNET

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees oook: Aktiviste dreig met chaos by Justin Bieber se SA-toer

Leave a Reply

Your email address will not be published.