’n Voormalige AfriForum-werknemer het ’n opgeskorte vonnis ontvang vir die bedrog van R1 miljoen teen die organisasie.
Pieter Hendrik Myburg (36) het Dinsdag in die Bloemfonteinse streekhof verskyn waar hy skuldig bevind en gevonnis is vir bedrog en regsverydeling.
Dit was nadat die hof bevind het hy het bedrieglike kwotasies vir betaling vir kameras by die organisasie se hoofkantoor ingedien. Die kameras is nooit gekoop nie en die geld is in sy sak gesteek.
Myburg het ten tyde van die misdaad as die streekskoördineerder in die Vrystaat gewerk en was verantwoordelik vir die bestuur van AfriForum se kantore in Bloemfontein.
Hy was ook verantwoordelik vir die verkryging van wat ook al nodig was by die kantoor.
Volgens Vrystaatse Valke-woordvoerder, kaptein Christopher Singo, het Myburg op 26 Januarie 2018 aan die bestuur gesê kameras is uit die Bloemfontein-kantoor gesteel.
Bestuursamptenare het hul eie interne ondersoek gedoen omdat daar ‘n vermoede bestaan het dat Myburg moontlik betrokke was.
Hy het gesê: “Die uitslag van die interne ondersoek het aan die lig gebring dat Myburg betrokke was by bedrieglike aktiwiteite waar hy verskeie bedrieglike kwotasies by hoofkantoor ingedien het vir betalings [vir] kameras wat nooit gekoop is nie. Van die kameras waarvoor hy kwotasies ingedien het, is nie as gesteel aangemeld nie.”
Singo het bygevoeg dat Myburg die fondse tussen Januarie 2016 en Januarie 2018 geneem het.
“As gevolg van die bedrieglike aktiwiteite is AfriForum benadeel en het ‘n totale verlies van meer as R1 miljoen gely.
Die saak is by die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad Ondersoekspan, gesetel in Bloemfontein, aangemeld vir verdere ondersoek.
Myburg is bedien met ‘n dagvaarding op 25 Januarie 2022. Hy het by verskeie geleenthede in die hof verskyn, wat op sy onlangse skuldigbevinding uitgeloop het.”
Myburg is gevonnis tot agt jaar agter tralies, ten volle opgeskort vir vyf jaar, en 36 maande korrektiewe toesig.
Hy is ook beveel om AfriForum R720 000 in maandelikse paaiemente van R12 000 oor vyf jaar terug te betaal.
Bronne: My Broadband, IOL
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Kim Kardashian het glo Marilyn Monroe se rok beskadig



