Dit gaan elke dag beter met die vyfjarige Marno Muller wat glo gister albei sy bene sowel as een van sy handjies beweeg het.
Hy het ook sy bo-lip gelek en geluide begin maak.
Toe Marno se mamma, Helga “Marno, Marno, Marno” roep, het hy sy oë oopgemaak en “daar het trane oor sy wange gerol en hy het gesnik. Hy lyk baie verward.

“Ek het vir hom gevra: ‘Is jy dors? Marno, wil jy water hê?’ Waarna Marno ‘uh’ gesê het. Hy het drie slukkies water gedrink. Hy het probeer om regop te kom, maar sy lyfie is nog net te swak,” vertel Helga.
Marno wil steeds nie eet nie en kry voeding deur ‘n pypie deur sy neus. .Hy word ook drie keer ‘n dag genebuliseer en kry suurstof indien nodig.
.Daar is nog nie ‘n datum vir die MRI nie, omdat die onttrekkingsimptome eers moet “uitwerk”.
“Hierdie moederhart was nog nooit so bly soos nou nie. Al kan hy nog nie self sit of praat nie, hy het sy ogies oop gemaak, hy het verstaan wat ek hom gevra het en hy het my herken, ek kon dit sien….
Dankie Here onse Vader vir die groot wonderwerk wat aan die gebeur is, U het my Marno by die hand gevat en hom teruggelei na ons toe, stadig maar seker kom hy terug na ons toe, dankie Here,” lui ‘n plasing op die Facebook-groep Hemelse Pêrels NC.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



