’n Onderwyser van Durban het skuld beken dat sy 24 keer tydens die plaaslike regeringsverkiesing in November verlede jaar gestem het.
Nomusa Precious Gabuza is vandeesweek in die Umlazi-streekhof tot drie jaar korrektiewe toesig en vier jaar gevangenisstraf, ten volle vir drie jaar opgeskort, gevonnis.
Natasha Kara, NVG-woordvoerder, het gesê Gabuza het skuld beken op oortreding van die Plaaslike Regering Munisipale Verkiesingswet van 2000.
In haar pleidooi het Gabuza aan die hof gesê sy was ‘n onderwyser by ‘n skool in Durban, wat ook as ‘n stemlokaal tydens die plaaslike regeringsverkiesings gebruik is.
“Sy was die voorsittende beampte by hierdie stemlokaal en het erken dat haar taak was om te verseker dat die stemproses regverdig sonder enige probleme uitgevoer word,” het Kara gesê.
“Die oggend van die verkiesing en voordat die stemlokaal kon oopmaak, het sy besluit om ekstra stemme uit te bring ten gunste van haar party van keuse. Sy het gesê dat sy 24 stemme (12 vir die munisipale verkiesings en 12 vir die wyksverkiesings) ten gunste van haar party uitgebring het en dit in die betrokke bokse geplaas het.”
Gabuza het in haar pleidooi gesê sy het dit gedoen met die wete dat haar optrede verkeerd was. Sy was bewus daarvan dat sy net een keer geregtig was om te stem.
“Gabuza is in hegtenis geneem nadat ‘n partyverteenwoordiger die bokse geïnspekteer het voor die aanvang van die stemproses. Sy is toe in hegtenis geneem en het uiteindelik skuld beken,” het Kara gesê.
Bronne: MSN, IOL, Jacaranda FM
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Idris Elba die nuwe James Bond?



