Twee buitelanders sal na verwagting binnekort in die De Aar-landdroshof op aanklagte van ontvoering en diefstal van ‘n voertuig verskyn.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, sê die slagoffer het twee mans aangestel om vir haar te werk. Maandag 13 Junie het die twee mans glo die 30-jarige slagoffer ontvoer, haar in die kattebak van haar motor gegooi en met haar motor weggery.
“Die slagoffer het haar selfoon by haar gehad en kon via WhatsApp met haar ma kommunikeer oor die situasie,” sê kapt Tawana. “Haar ma het dadelik die polisie in kennis gestel en die polisie op De Aar het ‘n soektog geloods.”
Die polisie het die twee verdagtes en die slagoffer, steeds agter in haar motor, in die suide van Johannesburg opgespoor. Die slagoffer het kneusplekke opgedoen.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en verskyn binnekort in die hof.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



