‘National shutdown’ – Wat jy moet weet

Deel hierdie storie / Share this story

Na aanleiding van sprake van ’n nasionale shutdown op Vrydag 10 Junie 2022 die volgende:

Die EFF het gister op hulle sosiale media nie weer melding van so ‘n nasionale ontwrigting op Vrydag 10 Junie 2022 gemaak nie. Julius Malema het wel tydens hulle perskonferensie gesê sou president Cyril Ramaphosa weier om as president van die land opsy te staan terwyl die ondersoek na die rooftog op sy plaas gedoen word, die party “talle sektore van die samelewing gaan mobiliseer om hom nie meer as president van die republiek te erken nie en hom te keer om sy presidensiële funksies uit te voer”.

Hulle dreig dus met ’n nasionale shutdown, maar dit sal volgens die beskikbare inligting nie Vrydag 10 Junie 2022 plaasvind nie. AfriForum sê hy sal hierdie dreigement derhalwe apart monitor.

Die taxivereniging SANTACO se nasionale woordvoerder het aangedui dat hulle nie die nasionale shutdown ondersteun nie.

“Die provinsiale woordvoerder in KwaZulu-Natal het hom weerspreek deur te sê die nasionale shutdown was nie hul idee nie, maar hulle sal dit ondersteun weens die huidige finansiële situasie en steeds stygende diesel- en petrolpryse,” sê AfriForum.

Dit verhoog derhalwe die risiko vir KwaZulu-Natal, hoewel SANTACO se nasionale bestuur moontlik die plaaslike bestuur sal (probeer) keer.

“As gevolg van die twee bogenoemde punte is die waarskynlikheid vir ’n nasionale shutdown kleiner as gister, aangesien dit volgens die nuutste inligting nie meer deur ’n sentrale organisasie met ’n nasionale voetafdruk gedryf word nie. Neem ook steeds in ag dat daar al baie sulke nasionale shutdowns aangekondig was, maar dat slegs sekere provinsies of dele van die land gewoonlik geraak word. Dit is meestal Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaap. Limpopo, Noordwes, die Noord- en Wes-Kaap en die Vrystaat word normaalweg minder geraak deur hierdie inisiatiewe.”

“Daar bestaan wel ’n moontlikheid vir kleiner plaaslike shutdowns of betogings wat uitgevoer kan word deur individue of groepe wat hulle eie agendas dryf of die momentum probeer misbruik tot hulle eie voordeel.”

“Hierdie betogings is baie moeilik om te voorspel en plaaslike veiligheidstrukture behoort meer akkurate inligting aan hulle gemeenskappe te kan voorsien in dié verband,” sê AfriForum.

“Ons herhaal dat groot betogings selde op ’n Vrydag plaasvind. Dis te naby aan ’n naweek en die deelname is gewoonlik laer. Daar is egter groot ontevredenheid oor die hoë brandstofpryse en daar mag dus steeds kleiner plaaslike betogings wees soos bo genoem.”

Wenke vir Vrydag 10 Junie:

• Dit is steeds ’n goeie plan om enige reisplanne vir Vrydag te heroorweeg en uit te stel indien moontlik, hoewel die risiko volgens die beskikbare inligting kleiner geraak het sedert gister.
• Indien jy Vrydag moet ry, sal dit goed wees indien jy vooraf met die nodige plaaslike owerhede en veiligheidstrukture skakel om uit te vind of jou roete veilig is.
• Skakel in by jou plaaslike (AfriForum-) buurtwag, plaaswag en/of GPF, sodat jy inligting oor jou omgewing by hulle kan kry.
• Dateer jou gebeurlikheidsplanne op.
• Hou jou tweerigtingradio aangeskakel, indien jy een besit.

“AfriForum moniteer sosiale media spesifiek vir hierdie shutdown en sal verdere inligting met julle deel indien en wanneer nodig.” – AfriForum, Facebook

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.