Disney vra om verskoning na werknemer verlowingsoomblik ‘ruïneer’

Deel hierdie storie / Share this story

Disney is toe nié die gelukkigste plek in die wêreld nie… Disneyland Paris het vandag ‘n verskoning uitgereik na een van sy werknemers onlangs ‘n verlowing op die perseel onderbreek het.

In ‘n kort video wat nou wyd versprei word, staan ‘n man op sy knieë, op die punt om die groot vraag te vra. ‘n Disney-werknemer hardloop dan tussen die paartjie verby en gryp die ring.

Die werknemer wys dan vir die paartjie waar hulle die oomblik kan voortsit.

Of die werknemer bedoel het dat die paartjie nié op die platform mag wees nie en of hy bedoel het dat ‘n ander plek meer geskik is vir die groot oomblik, is onseker.

‘n Woordvoerder vir Disney het besluit om die situasie aan te spreek.

“Ons is spyt oor hoe die situasie hanteer is. Ons het vir die paartjie om verskoning gevra en aangebied om dinge reg te maak.”

Ten spyte van die verskoning was baie sosialemedia-gebruikers steeds ongelukkig.

“Disney moet hom ‘n groot hoeveelheid geld aanbied om mense se spesiale oomblikke op te mors,” skryf iemand.

Nog ‘n persoon het geskryf: “As dit ek was, sou ek nie eers geweet het dis ‘n werknemer nie. Ek sou dink dis ‘n dief, want hy het net die diamantring uit my hande gegryp.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.